Al die reëlings vir jou groot dag is in plek en jy sien vreeslik uit, maar dit was duurder as wat jy gedink het en daar is nie geld in jou begroting oor vir skoonheidsbehandelings nie. Moenie bekommerd wees nie, want dit is heeltemal moontlik om soos ’n prinses te lyk sonder om die spa se drumpel deur te trap.
Alhoewel ’n behoorlike skoonheidsroetine deel behoort te wees van enige meisie se leefstyl, is dit ook iets wat oor die jare baie duur geword het om te volhou. En soos jy weet is trou ook ’n duur storie, wat jou begroting sommer vinnig kan knak. Daarom moet bruide baiekeer kies tussen die perfekte troue en ’n welverdiende pamperlangsessie die dag voor die tyd. Maar dit hoef nie die geval te wees nie. Jy kan jouself net so goed pamperlang en stralend lyk voor die kansel, mits jy vroegtydig (en veral reeds in die winter) behoorlik na jou vel begin omsien.
Laat jou vel oor die algemeen gesond lyk deur…
- gereeld ’n velafskilfering te doen.
- jou vel elke dag te bevogtig.
- jouself op ’n gereelde basis ’n tuisgesigbehandeling te gee.
Wanneer jou gesigvel droog is…
’n Droë gesigvel word gewoonlik veroorsaak as jy:
- nie jou vel gereeld afskilfer nie;
- nie genoeg water drink nie;
- jou vel nie gereeld bevogtig nie.
Oplossing: Doen ’n gereelde velafskilfering, belê in ’n goeie vogroom (’n groot potjie of buisie behoort jou ’n paar maande te hou) en moet nooit gaan slaap sonder om jou grimering af te was nie.
Wanneer jou vel oud lyk…
Jou vel sal vinnig oud lyk wanneer jy:
- nie genoeg water drink nie;
- jou vel nie gereeld bevogtig nie;
- te veel rook;
- jou vel blootstel aan te veel skadelike UV-strale.
Oplossing: Belê in ’n goeie velsorgreeks wat jy tuis kan gebruik (dit behoort jou ’n paar maande te hou). ’n Goeie oogroom en gereelde teenverouderingsbehandelings is ook ’n moet.
Wanneer jou voete sleg lyk…
Gebarste hakke word gewoonlik veroorsaak wanneer jy…
- jou voete nie gereeld met ’n afskilfering bederf nie;
- nie gereeld voetroom aansmeer nie;
- te veel skoene dra in die somer wat jou hakke ontbloot.
Oplossing: Bederf jou voete tuis deur babapoeier met Vaseline te meng om ’n dik pasta te vorm. Smeer dit dan aan jou jou voete en trek ’n paar ou sokkies aan en gaan klim in die bed. Die resultaat is ongelooflik! Doen ook gereeld ’n pedikuur sodat jou voete versorg lyk.
Wanneer jou oë waterig of droog is…
Daar is verskeie redes hoekom jou oë hul sprankel verloor het:
- verandering in seisoen
- ’n hoë stuifmeeltelling
- te min slaap
- te veel ure voor die rekenaar
- swak beligting in die vertrek waar jy lees en werk
Oplossing: Plaas warm Rooibostee-sakkies op jou oë vir onmiddellike verligting, ontspan een keer per week met komkommerskyfies op jou oë of belê in Eyeslice Professional.
Wanneer jou lyf droof is…
Die vel op jou lyf is baiekeer droog as gevolg van:
- klimaat- of omgewingsfaktore;
- oliekliere wat nie behoorlik funksioneer nie;
- genetiese probleme en
- die inhoud van die water in jou area.
Oplossing: Gebruik lyfbotter in plaas van lyfroom en drink baie water.
Buiten vir die feit dat jy behoorlik na jou vel moet omsien, is daar ook ’n paar lekker en goedkoop maniere om jou gesig, vel en hande te pamperlang… veral voor jou grot dag. Kom loer Woensdag vir heerlike skoonheidsresepte waarmee jy jou lyf kan bederf.
Artikel: Bianca Havenga