Elke meisie wil graag stralend lyk op haar mooiste dag. Maar ongelukkig is ’n mooi vel nie iets wat jy in ’n japtrap kan kry nie. Hier is nuttige skoonheidswenke wat jou sal help om ’n vlekkelose vel op jou troudag te hê.
’n Mooi vel is iets wat ons as vroue begeer, elke dag en veral op ons troudag. Maar daar is nie ’n kitsoplossing wat jou vel ewe skielik vlekkeloos en stralend sal laat lyk nie, en al dra jy grimering, kan dit ook nie al die probleemareas verbloem nie. Ons het vir een van ons land se mooiste vroue gaan vra hoe sy haar vel so mooi hou.
Minki van der Westhuizen, immergewilde model, televisieaanbieder en mamma van twee pragtige woelwaters, glo onvoorwaardelik aan ’n goeie velsorgroetine. Sy sê: “Dit gaan nie daaroor om die duurste produkte te gebruik nie, maar eerder om mooi na jou vel te kyk. Ek gaan slaap NOOIT met grimering nie en dra elke dag, selfs in die winter,’n sonroom.” ’n Grimeerkunstenaar het haar jare gelede aan MAC se Strobe-room bekend gestel en sy hou baie daarvan. Dit word onder die onderlaag aangewend en gee ’n baie mooi natuurlike glans. “Ek persoonlik hou glad nie van ’n swaar onderlaag nie. Ek gebruik graag ’n getinte vogroom vir elke dag.” Dis belangrik om soggens en saans jou gesig goed te was en te bevogtig. “Ek is ook mal oor maskara, lipstiffie en lipglans. Ek het heeltemal te veel daarvan, maar gebruik almal!” As ’n mens na die pragtige Minki kyk dan weet jy dat haar wenke die moeite werd is om te volg.
MAKLIKE WENKE VIR ’N SPRANKELENDE, VARS VOORKOMS
* Gebruik ’n breëspektrum sonblok, SPF 30 of meer op jou gesig, nek en ore.
* Vir ’n songesoende voorkoms, probeer gerus Olay Complete Touch of Sun Daily UV Moisturizer + A Touch of Sunless Tanner.
* Die sodiuminhoud in gaskoeldrank maak jou gesig pofferig; drink eerder sodiumvrye koeldrank.
* Hoë stresvlakke kan hormoonproduksie laat styg wat lei tot aknee. Pamperlang gereeld jou gesig met ’n 10-minuut gesigmasker.
* Die afbreekproses van suikers (glycation) beskadig die kollageen wat jou vel glad en ferm hou. Probeer om kosse met ’n lae glukemiese indeks, soos volgraanprodukte, by jou dieet insluit.
* Tee met EGCG en theaflavins help om velkanker te voorkom en verminder die afbreek van kollageen (wat plooie veroorsaak). Drink gerus tussen 3-5 koppies tee per dag (groen, swart en rooibos).
* Drink baie water en slaap genoeg.
Artikel: Yolanda Wessels