Mooilykgeheime kom nie altyd verniet nie, so jy moet beslis vandag se artikel lees as jy wil skitter op jou groot dag!

Elke bruid wil graag mooi en gesond lyk op haar mooiste dag. Maar ongelukkig is nie een van ons perfek nie en duik daar soms skoonheid- en gesondheidsdilemmas op wat ’n uitdaging kan wees. Maar soos met elke probleem, is daar ’n oplossing. Ons kenner verklap mooilykgeheime wat jou kan help.

Dr. Marika van Lelyveld is ’n gekwalifiseerde mediese dokter, wat daarin spesialiseer om skoonheids- en gewigsprobleme doeltreffend te behandel. Hier is haar mooilykgeheime.

V: Is daar enige behandelings of mooilykgeheime wat my ma, wat selfbewus is oor haar voorkoms, kan oorweeg voor die troue?
A: “Daar is heelwat opsies wat sy kan oorweeg:
-Ten minste ses maande voor die troue kan PDO of Silhouette Soft® gedoen word, wat min of meer dieselfde effek het as ’n gesigsontrimpeling.
– So drie maande voor die troue kan vullers en Botulism Toxin gebruik word om haar voorkoms te versag en mooi vars te laat lyk.”

V: Ek trou oor ses maande en wil graag gewig verloor, maar niks wat ek doen help nie. Het jy enige mooilykgeheime?
A: “Dit sal raadsaam wees om jou hormone te laat toets aangesien ’n wanbalans kan lei tot gewigsprobleme. Daar is egter geen kortpad met gewigsverlies nie en ’n mediese dieëtprogram soos Slender Wonder word aanbeveel.”

V: Ons gaan Mauritius doen vir ons wittebrood, maar die selluliet op my bobene maak my skaam vir ’n bikini. Hoe raak ek daarvan ontslae?
A: “Vir die beste resultate moet jy begin by:
– ’n Gesonde dieët met baie vrugte en groen groentes;
– Oefening, oefening en nogmaals oefening;
– Toets en herstel testosteroonvlakke aangesien lae testosteroon as gevolg van die pil, selluliet kan veroorsaak; en
– Behandelings te probeer soos Mesoterapie en Radiofrekwensie-behandeling, byvoorbeeld Accent en Maximus, wat die vetselle verminder en die bindweefsel versterk.”

V: Daar is donker vlekke op my gesig en ek droom oor ’n vlekkelose vel op my troudag. Wat kan ek doen?
A: “Behandeling hiervoor moet ten minste ses maande voor die groot dag begin word. ’n Visia-gesigsanalise sal beter bepaal wat die aard en graad van die pigmentasie is. Sproete kan maklik met ’n laser of chemiese afskilfering behandel word, maar Melasma het dieper afskilfering of eerder ’n fraksionele laser nodig. Daar is ’n verskeidenheid produkte beskikbaar wat saam met die behandelings gebruik kan word. Sonblok is veral baie belangrik. Vermy enige ingrypende behandelings ten minste drie maande voor die troudag. ’n Ligte chemiese afskilfering kan een maand voor die geleentheid herhaal word.”

V: Dit voel asof die troustres vir my elke dag ’n plooi of karbonkel by gee, hoe kan ek verseker dat my vel glad en jonk vertoon op my spesiale dag?
A: “Niemand wil ’n onooglike ‘karbonkel’ op hul troudag hê nie. As jy geneig is tot ’n slegte vel skryf ek dikwels antibiotika voor so vyf dae voor die tyd voor om dit te voorkom. ’n Eenmalige lae-dosis kortisoon verrig ook wondere vir ’n onmiddellike vlekkelose gelaat.”

Hierdie is maar net ’n paar van die mooilykgeheime uit haar skatkis van wysheid. Vir meer raad, besoek Vaal Triangle Aesthetics se webblad of Facebook-blad.

WEN, WEN, WEN!
Een gelukkige leser in Gauteng staan die kans om gesigbehandelings, ter waarde van R5 000, te wen van Dr van Lelyveld.

HOE OM IN TE SKRYF:
1. LIKE Dr van Lelyveld op Facebook.
2. LIKE Troukoors op Facebook.
3. LIKE en SHARE hierdie kompetisie op Facebook (die kompetisie verskyn in ons Kompetisie-Album, onder Photos). BELANGRIK: Moenie die hele Kompetisie-Album like en share nie, maar SLEGS DIE FOTO van hierdie kompetisie waarvoor jy inskryf.*
4.POST jou foto saam met Troukoors Tydskrif in die kommentaarblokkie op Facebook, gevolg deur #TroukoorsGesigbehandelingsKompetisie – Hierdie kompetisie sluit op 30 Junie 2018.

Foto: Prostooleh deur Freepik

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA