is 'n videograaf regtig nodig 1
Almal het deesdae die mooiste videos van hulle troue, wat op die internet gedeel word en mense in vervoering het. Maar is die uitgawe van ’n videograaf regtig nodig op jou troudag?

Om voor die kamera te wees is ’n gedagte wat baie bruidspare benoud laat voel. Dit is erg genoeg om honderde foto’s te neem op die dag, so is die druk van ’n videokamera wat elke beweging afneem regtig nodig?

Iseecreative is professionele videograwe wat al vir meer as tien jaar in die bedryf is. Hulle vertel ons wat die voordele daarvan is om jou mooiste dag op video vas te vang.
 
HOEKOM IS DIT BELANGRIK OM ’N VIDEOGRAAF OP JOU TROUDAG TE HÊ?
“Die paartjie beplan maande lank aan hulle groot dag. Wanneer dié dag uiteindelik aanbreek, gaan dit werklik in ’n oogwink verby, omdat daar so baie is om in te neem. Die oomblik is soms vir die paartjie te groot en dit is vir hulle onmoontlik om op alles te fokus. ’n Trouvideo is dus noodsaaklik sodat elke stukkie detail vasgevang kan word. Dit verseker dat al die moeite wat vir die troue ingesit is, na afloop daarvan, raakgesien en opnuut waardeer kan word.”

WAT IS DIE VOORDEEL VAN ’N TROUVIDEO?
“Herinneringe word deur middel van ’n video lewendig gehou. Soms is dit nie moontlik vir vriende- of familielede om die troue by te woon nie. ’n Trouvideo is dus die ideale geskenk, sodat hulle ook die dag kan beleef. Klank is ook nog ’n voordeel, omdat die paartjie weer kan gaan luister na wat gesê is tydens die seremonie en onthaal, byvoorbeeld, die bevestiger se boodskap, beloftes, toesprake en spesiale boodskappe. Paartjies kan vir jare lank hierdie spesiale dag saam met vriende en familie herleef – en dit ook eendag vir hulle kinders wys. Die digitale wêreld groei teen ’n ongelooflike tempo en dit stel videograwe in staat om uitstekende beeldkwaliteit te verskaf. Dit is deesdae selfs moontlik om foto’s van die beeldmateriaal vas te vang wat gedruk, geraam of aanlyn vertoon kan word.”
 
HOE KIES ’N MENS DIE REGTE VIDEOGRAAF VIR JOU TROUDAG?
“Dit is belangrik om na verskillende videograwe se werk te kyk en te vergelyk. Kyk wat ander mense oor die spesifieke videograaf te sê het – want ’n groot gedeelte van julle troudag gaan met die videograaf gedeel word en daarom moet almal heeltemal gemaklik wees. Dit is ook belangrik om vooraf met potensiële videograwe te ontmoet. Moenie bang wees om vrae te vra nie, vind soveel as wat moontlik is uit – hoe lank is hulle al werksaam in die bedryf; wat sê ander paartjies met wie hulle voorheen saamgewerk het; watter tipe toerusting gebruik hulle; ensovoorts. Kies ook ’n videograaf wat die beste binne julle begroting pas.”

HOEVEEL KAMERAS VAT JULLE SAAM NA ’N TROUE SE OPNAME?
“Minimum twee kameras en ’n maksimum van vier, afhangende van die pakket. Dit is vir ons belangrik om altyd ’n minimum van twee kamaras te gebruik, om seker te maak dat die nodige hoeke gedek is. Dit is altyd mooi om, byvoorbeeld, die gaste se uitdrukkings te sien wanneer daar oor hulle gepraat word, terwyl ’n ander kamera op die paartjie of op toesprake gefokus is.”
 
HOEVEEL URE SPANDEER JULLE SAAM MET DIE BRUIDSPAAR OM DIE VIDEO TE KAN MAAK?
“Tussen agt en twaalf ure, afhangende van watter pakket gekies word.”
 
WIE BESLUIT OP MUSIEK WAT GEDURENDE DIE VIDEO GESPEEL WORD?
“Die bruidspaar kry die vryheid om hulle gunstelingmusiek deur te gee, wat ook op die troudag tydens die seremonie en onthaal gespeel is. Aangesien die musiek vir die hoogtepuntvideo gelisensieerde liedjies is, word dit deur ons gekies en word die nodige toestemming, om dit aanlyn te gebruik, bekom. Ons kies egter liedjies wat die beste by die troudag en die paartjie pas. Ons gebruik elemente van die troue, soos die uitnodiging, dekor en atmosfeer om te help met die musiekkeuses.”
 
SLUIT JULLE DIENSTE DIE VERWERKING VAN DIE BEELDMATERIAAL OOK IN OF KRY DIE PAARTJIE ROU MATERIAAL?
“Ons dienste sluit alles in, van die afneem van die kleinste detail en die professionele redigering van die beste beeldmateriaal, wat die kronologiese volgorde van die dag die beste uitbeeld. Al die belangrike oomblikke van die hele huweliksbevestiging word vasgevang en geredigeer, sodat die hele storie vertel kan word.”
 
WORD FAMILIE EN VRIENDE BY DIE ONTHAAL AFGENEEM?
“’n Trouvideo, sonder die gaste, sou maar hol geklink het as jy daarop kon klop. Ons neem beslis die familie en vriende af – van gesigsuitdrukkings tydens die seremonie en onthaal, tot individue wat tydens toesprake uitgesonder word. Indien daar spesiale versoeke is om iets persoonliks vir die paartjie te sê, sal ons dit met graagte afneem en op die regte oomblik in die eindproduk inwerk.”
 
HOE LANK VAT DIT VOOR DIE PAARTJIE HULLE VIDEO KRY?
“Ons maak seker dat die paartjie, binne twee weke na die troue, ’n hoogtepuntvideo (van so drie tot ses minute lank) kry, wat hulle op sosiale platforms soos Facebook, Vimeo of Youtube, met vriende en familie kan deel. Die eindproduk DVD(s) en/of geheuestokkie (afhangende van watter pakket gekies is) sal binne ’n minimum van ses weke na die troue aan die paartjie oorhandig word.”

is 'n videograaf regtig nodig 2

Vir meer inligting en gereelde videohoogtepunte, besoek Iseecreative se webblad en gaan LIKE hulle op facebook.

Foto’s uit videos: Iseecreative

Hooffoto: Expert Beacon

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA