navorsing
Goeie navorsing is noodsaaklik vir enige suksesvolle projek – daarom is dit belangrik om jou huiswerk ook behoorlik te doen wanneer jy beplan aan jou troudag. Hou die volgende in gedagte wanneer julle begin beplan.

ekspo-2

Die groot vraag is gevra en die troukoors vlam op. Nou het die tyd vir groot beplanning aangebreek, so waar begin jy navorsing doen vir jou troue? Lees hier om meer uit te vind.

LEWENSLANGE DROME
Die kans is groot dat jy al jou hele troue beplan het in die dae toe jy nog met ʼn kantgordyn in jou ma se hoëhakskoene die gange af geparadeer het. Hou die droom lewendig waar moontlik. Verander en dateer hier en daar dele van jou visie op. As jy jouself byvoorbeeld nog altyd gesien het met ʼn lang, vloeiende rok of ʼn groot seremonie, moet jy mooi heroorweeg indien jy dit drasties wil verander.

SOSIALE MEDIA VIR NAVORSING
In vandag se dae kan ons nie meer begryp hoe die mensdom vir sóveel jare sonder die internet klaargekom het nie. Webblaaie soos Troukoors, Pinterest en die ontelbare ander webtuistes wat met die druk van ʼn knopie beskikbaar is, voeg so baie waarde tot ʼn bruid se navorsing. Kyk na al die verskillende idees en besluit so wat vir jou die beste werk.
Let wel – wanneer dit by die rok kom, moet jy dit liefs fisies aanpas voordat jy jou hart daarop verloor. Somtyds lyk die rok nie heeltemal dieselfde op die bruid soos wat dit op die model lyk nie. (Die kleur en tekstuur kan ook verander in lewende lywe.)

TYDSKRIFTE EN BOEKE
Beskikbaar by enige goeie skryfbehoefte winkel, verleen hierdie metode ʼn tikkie nostalgie. Nie alle bruide hou van die tegnologiese benadering van trouebeplanning nie en as kinders was dít grootliks die fondasie waarop hedendaagse bruide se drome gebou is. Jy kan al die prente uitknip en ʼn fisiese beplanningsbord of leêr maak.
(Die Trouboek van Gretha Wiid en Troukoors is ook ʼn uitstekende bron van navorsing.)

GEWESE BRUIDE
Die beste beplanningsraad kan by familie, vriendinne of selfs jou ma (wat alreeds agter die kansel gestaan het) verkry word. Vind uit hoe hulle hul eie navorsing gedoen het, asook watter raad hulle vir jou kan gee wat jy dalk nie in geskrewe vorm sal vind nie. Ondervinding is die beste onderwyser!

TELEVISIE
Daar is ʼn hele paar oulike realiteitstelevisieprogramme wat elke punt van die troue aanraak. Kyk gerus daarna, want dit is tog werklike troues wat beplanning geverg het.

Geniet elke stap van die trouproses en omhels die uitdagings wat trouebeplanning bied. Doen jou navorsing goed en jou spesiale dag sal seepglad verloop.

Artikel: Gina van Staden
Foto: The Oz Blog

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA