’n Noodhulptassie is ’n móét wanneer julle met wittebrood gaan. Jy weet nooit wat verkeerd kan gaan wanneer jy inpak vir een van die spesiaalste vakansies van jou lewe nie. So maak seker dat jy voorbereid is.
Dis amper tyd vir julle wittebrood en jy wil seker maak dat jy voorbereid is vir enigiets wat dalk mag skeefloop en hierdie perfekte tyd in jou lewe kan bederf. ’n Noodhulptassie is dus baie belangrik. Ongeluke, siekte en ander onvoorsiene dinge gebeur maar, veral as jy die land verlaat, en dit is daarom ’n goeie idee om eerder voorsorg as nasorg te tref.
Hier is ’n paar basiese goed wat jy in jou noodhulptassie moet inluit:
ANTIHISTAMINE
Dit is ’n goeie idee om ’n boksie anti-allergiepille in te pak aangesien ’n vreemde omgewing allerhande allergieë kan meebring. Voorkom ’n loop neus en pofferige oë deur voorbereid te wees.
LAKSEERMIDDELS
Niks kan jou so goor en opgeblaas laat voel as hardlywigheid nie – en veral wanneer jy vreemde kosse moet eet. Vat ’n pakkie lakseermiddels saam, net vir ingeval een van julle dalk verstop raak.
NAARPILLE
Om naar te wees, sal jou hele wittebroodervaring sommer ook naar maak. Aangesien daar baie dinge is wat olikheid kan veroorsaak, is dit ’n goeie idee om altyd ’n boksie goeie kwaliteit naarpille in jou noodhulptassie byderhand te hê.
IETS OM DIAREE TE STOP
Diaree kan baie ongemaklik wees, veral as julle baie gaan rondreis. Maak seker jy is voorbereid en kry voor die tyd medikasie hiervoor by die apteek.
SOOIBRANDPILLE
Wanneer jy wittebrood hou, is jy nogal geneig om meer te eet as gewoonlik… en ook goed wat jy nie gewoonlik sou kies om te eet nie. Voorkom ongemak en sooibrand deur teensuurpille in te pak.
ANTI-INFLAMMATORIESE MEDISYNE
Oorpyn is nogal algemeen wanneer ’n mens reis en kan allerhande komplikasies veroorsaak. Skakel oorpyn en balansprobleme uit deur anti-inflammatoriese medikasies, soos Brufen, in jou noodhulptassie te pak.
PYNPILLE
Ja, ’n mens kry selfs op wittebrood hoofpyn en selfs rugpyn. Pak ’n boksie goeie pynpille, asook spierverslappers in om klaar te speel met enige pyn wat dalk ’n opwagting kan maak.
PLEISTERS
Dit is maklik om jouself per ongeluk raak te sny… of om jou te misgis met hoe gemaklik daai nuwe stapskoene nou eintlik is om ver mee te loop. Maak seker jy het pleisters vir sulke ‘ongevalle’.
KOORSPEN, SKÊR, TWEEZER
Want jy weet nooit wanneer jy dit dalk mag nodig kry nie. Maak seker jou noodhulptassie is behoorlik toegerus.
NA-SONBRANDMIDDEL
As jy erg gebrand het in die warm eilandson, sal jy beslis ’n bietjie na-sonbrandmiddel nodig hê om oyn te verlig en skadebeheer te doen aan jou beseerde vel.
WATERSUIWERINGSTABLETTE
Baie plekke oorsee se water is nie suiwer nie en dit is daarom ’n goeie idee om liewer kraanwater te vermy of die water met suiweringstablette te behandel.
Wees voorbereid, pak jou noodhulptassie deeglik en maak die beste van julle eerste vakansie saam.
Foto: Huffington Post