Ouersvra is net so belangrik soos wat dit is om jou meisie te vra om met jou te trou. Haar familie gaan ook jou familie word en in baie gevalle is ouers nog tradisievas. Deur haar ouers te vra, bewys jy dat jy hulle respekteer en dat hul opinie saak maak. Dit kan nogal senutergend wees, veral wanneer daar ’n kwaai pa ter sprake is. Gina van Staden gee raad oor hoe om van hierdie berg ’n spreekwoordelike molshoop te maak.
ONS HET WEER 50 EKSEMPLARE VAN GRETHA WIID & TROUKOORS SE TROUBOEK ONTVANG! SPAAR R44.90 AS JY ALBEI NOU BESTEL…
BESTEL DIE TROUBOEK EN TROUKOORS TYDSKRIF
(POSGELD INGESLUIT):
Betaal R170 in ons bankrekening in:
MonCheri Events and Productions CC
Rek: 189 103 463 4 (Tjek)
Tak: 189 137
Nedbank Vaal Mall
Verwysing: Jou naam, van en selfoonnommer en e-pos met jou adres na info@bpwpprebuild.co.za
Kliek hier vir meer info en opsies: https://www.troukoors.co.za/koop-die-tydskrif/
——————————————————————–
Volg hierdie raad om die druk so ’n bietjie te verlig wanneer jy ouersvra.
MAAK SEKER DAT SY GEREED IS OM TE TROU
Toets die water voor jy haar vra. Wíl sy trou? Het sy nog studies om te voltooi? Is sy emosioneel gereed daarvoor? Maak seker dat julle op dieselfde golflengte is, want dit help nie jy doen moeite om te gaan ouersvra en dan is sy die een wat nee sê nie.
LEER KEN HULLE EERS VOOR JY OUERSVRA
Laat haar ouers toe om eers ’n idee te kry van wie jy is en wat jy hulle dogter kan bied. Partymaal bly ouers ver, maar doen die moeite om by hulle te gaan kuier en hulle eers te leer ken.
VRA HAAR PRIMÊRE OUER SE TOESTEMMING IN PERSOON
Hierdie belangrike vraag kan nie oor die telefoon of per e-pos gevra word nie. In die geval waar haar ouers geskei is, vra die een se toestemming by wie sy grootgeword het. Spreek af om hulle by hulle huis of by ’n gesellige restaurant te ontmoet.
BEPLAN WAT JY GAAN SÊ WANNEER JY OUERSVRA
Begin deur vir hulle te vertel hoekom jy hulle dogter liefhet en wat jy haar kan bied. Bly net weg van clichés soos: “sy is die perfekte vrou,” ensovoorts. Wees ook voorbereid op vrae wat hulle jou dalk kan vra, soos wie vir die troue gaan betaal, waar julle gaan bly/werk en of julle gereed is om so ’n groot stap te neem.
WEES VOORBEREID OP “NEE”
In die perfekte wêreld is die ouers opgewonde oor die moontlikheid dat hulle dogter ’n bruid gaan word en sê hulle dadelik ja, maar partykeer loop ouersvra op ’n nee uit. Jy moet daarop voorbereid wees en reeds besluit hoe jy daarop gaan reageer indien dit die geval is.
Om haar ouers se seënwense vir julle huwelik te hê is een van die grootste geskenke wat hulle vir julle kan gee. Maak seker dat jy kalm bly wanneer jy gaan ouersvra sodat alles seepglad verloop.