ouma
Ouma gaan een van die belangrikste woorde in jou kind se woordeskat wees. Daarom moet julle ’n manier vind om haar in julle baba se lewe in te sluit. Sy kan ’n groot verskil maak…

 

Troukoors_tydskrif_en_Die_Trouboek

Daar is slegs 50 eksemplare van DIE TROUBOEK by ons kantoor oor om aanlyn te bestel! Spaar boonop R44.90 as jy Die Trouboek & Troukoors tydskrif nou bestel! Betroubare posdiens word gebruik – 100% van ons pakkies bereik hul eindbbestemmings.
STAP 1 – Betaal R170 in ons bankrekening in:
Naam van rekeninghouer: MonCheri Events and Productions CC | Rekeningnommer: 189 103 463 4 | Takkode: 189 137
Bank: Nedbank Vaal Mall | Tipe rekening: Tjek | Verwysing: Jou naam, van en selfoonnommer
STAP 2 – E-pos jou naam, van en posadres saam met die betalingsbewys na info@bpwpprebuild.co.za
Kliek hier vir meer informasie oor Die Trouboek en Troukoors se tydskrif.

————————————————————————————

As pasgetroude paartjie met ’n baba op pad, is julle nie juis oop vir inmenging en raad nie. ’n Ouma kan egter vir jou kind van onskatbare waarde wees. Yolande van Deventer verklap hoekom…

Daar is iets spesiaal aan die liggie van opgewondenheid in jou kleuter se oë wanneer hulle by hul oumas kan gaan kuier. ’n Ouma is inderdaad net so belangrik vir jou kind soos om al hulle vitamiene in te kry.

Hoe oumas hulle rol in die familie speel het oor die tye baie verander, maar snaaks genoeg het hulle impak baie dieselfde gebly. Of hulle nou die tradisionele koekies-en-melk (met sagte lyf en voorskoot) tipe is, of die een wat steeds branders ry en tennis speel saam met jou kind, hulle bring elkeen ʼn unieke perspektief tot die lewe waarvan jou kleuter moet sin maak. Hulle is ʼn sagte brug tussen die veilige kring van ma en die groot oop wêreld daar buite.

As jy ʼn etiket op ʼn ouma moes plak sal jy waarskynlik al die volgende bestanddele daarin kry:

’N LEKKER BEDERFIE EN MIDDELAAR
Eendag gaan iemand nog daardie kantoor ontdek wat, soos binnelandse sake, ʼn sertifikaat van bederf aan oumas uitreik sodra die eerste kleinkind gebore raak. Ouma se huis is die anderkant van die weegskaal, waar hulle nog kan wegkom met sjokoladekoek vir ontbyt en varkieaand waar jy nie hoef te bad voor jy gaan slaap nie. ʼn Gesonde balans tussen die dissipline van ʼn ma en die vryheid van ʼn grootouer.
Partymaal is ouers en hulle kleuters net bietjie te na aan mekaar se spasies en kan klein burgeroorloggies ontstaan. Ouma se huis gee dan net genoeg ruimte vir albei partye om asem te haal en jou kleinding het dan ʼn oor wat kan luister met ʼn groter kalmte as wat jy as ouer dalk op daardie oomblik voel.

DIE MENTOR
Oumas het nou maar eenmaal ʼn manier om groot wyshede van die lewe sommer so tussen dorp toe gaan en koekies bak aan jou kind (en sommer aan jou as ouer ook) oor te dra. Kleintjies let ook aandagtig en grootoog op na die maniere en vaardighede van hulle oumas. “Kyk net hoe mooi praat ouma met oupa en niemand kan ʼn pannekoek in die lug gooi soos sy nie!” Hulle bevraagteken jou dalk om hulle grense te toets, maar vat selde dieselfde kanse met ouma. Ietsie aan ouma se kalm selfvertroue sê vir hulle sy was al om die blok.

DIE TOWENAAR EN SPEELMAAT
“Hoe kry ouma dit reg om altyd ʼn lekkergoedgeldjie uit daardie piepklein sakkie op te tower en hoekom vat ouma se salfie die pyn so maklik weg?” Ouma is ook nie altyd so besig soos die ouers om nie te kan saam modderkoekies bak of goggas in die tuin jag nie. Hulle geduld met kinderspeletjies se morsigheid vat die skerpkant van ouers se opruimraas bietjie weg. Hulle hoef nie meer soos jy as ouer terug te staan as speelmaat om hulle op te voed nie, hulle het jou mos klaar grootgemaak, dit is nou jou beurt.

DIE MATRIARG VAN DIE FAMILIEBOOM
Laataand familiestaaltjies op ouma se knie gee jou kleuter ʼn diep gevoel van behoort, dit vertel hom/haar waar hy/sy vandaan kom en stel jou as ouer ook baie keer in ʼn ander lig, veral as ouma al jou skandes en kattekwaad verklap! Die sirkel van lewe kom so mooi bymekaar in daardie oomblikke. Gun gerus jou kind die voordele van die ouma-vitamien, dit is unieke medisyne.

Foto: Huffingtonpost 

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA