Parfuum is ’n duursame bederf en noodsaaklikheid op enige bruid se dag. Dit is daarom belangrik om iets te kies wat by jou pas en wat lank sal hou.

Daar is baie vroue wat hulle siele sal verkoop vir ’n lekker bottel parfuum. Daar is selfs sommiges wat elke geur onder die son versamel… en wanneer jy die bruid is, het jy ’n verskoning om jouself met net die beste parfuum te bederf.

Daar is so baie opsies daar buite, maar volgens aanlyn- en parfuumwinkels, is die volgende 6 geure die gewildste onder die moderne bruid. Hou dit in gedagte wanneer jy jou parfuum kies.

1. J’Adore Perfume for Women deur Dior
Hierdie parfuum is al vir dekades lank gewild. Dit het ’n klassieke vrugtige reuk, wat vermeng is met blommegeure en speserye soos vanielje. Die eindresultaat is jonk, speels, geheimsinnig en baie vroulik.

2. Vera Wang Princess deur Vera Wang
Die skepper van hierdie heerlike geur weet maar al te goed dat elke vrou soos ’n prinses wil lyk en voel op haar mooiste dag. Die botteltjie is amper net so mooi soos die geur wat daarbinne vloei. Dit bestaan uit ’n kombinasie van vars vrugtegeure soos appel, appelkoos en koejawel, wat vermeng is met blomme- en speserygeure. Dit is prettig, vroulik en heerlik.

3. Coco Mademoiselle Perfume for Women deur Chanel
Hierdie parfuum is sonnig, elegant en sensueel. Dit is ’n mengsel van vars sitrusgeure en warm speserye soos vanielje. Dit hou letterlik vir ure lank en die eindresultaat is vroulik, sensueel en stout. ’n Baie gewilde geur onder moderne bruide.

4. Beautiful deur Estée Lauder
Hierdie is ’n emosionele parfuum en pas perfek by ’n groot dag soos jou troue. Dit is nie ’n subtiele geur nie. Dit is ’n verfrissende mengsel van vars blommegeure en aromas, met ’n romantiese eindresultaat wat die heel dag lank sal hou. As jy dit kies, hoef nie nie bekommerd te wees dat jy nie heeltyd sal lekker ruik nie.

5. Chloé
’n Sagte blommegeur parfuum, met soet botone en romantiese roos- en lietsjie-ondertone. Die perfekte romantiese geur vir die perfekte romantiese dag. Dié parfuum hou lank, al gebruik jy min daarvan op ’n slag.

6. Something Blue deur Oscar de la Renta
Die naam pas nie net by trou nie, maar die pragtige vrugtige geur sal ook bydra tot die opwinding van die dag. Hierdie parfuum kombineer vrugte reuke met vanielje en muskus vir ’n onvergeetlike effek wat die heel dag sal hou.

Daar is so baie wonderlike parfuumsoorte op die rak, so maak seker dat jy die perfekte een kies vir jou mooiste dag.

Foto: Woodhall Manor

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA