Skoonheid is iets wat elke bruid begeer, maar jy kan dit net kry wanneer jy van die begin af met die regte plan werk. Hier is wat jy moet, en nie moet doen, voor jou groot dag.
Die laaste eksemplare van Troukoors tydskrif se Spesiale Uitgawe is nou op die rak by Pick ’n Pay, Checkers en sekere Clicks en Spar winkels. Koop dit sommer vandag nog voor dit finaal van die rak af verdwyn, of bestel die tydskrif saam met Die Trouboek direk by ons (teen spesiale afsalg – saam posgeld steeds goedkoper as by die winkels). Kliek hier vir meer info of om te bestel.
————————————————————————————————————————————————————–
Daar is ʼn paar dinge, wanneer dit by skoonheid kom, wat jy moet doen (of wat jy liefs nie moet doen) voor die troue nie. Lees ons wenke hieronder en vermy ongemaklike oepsies op jou mooiste dag.
DIE MOETS
GAAN VIR ’N GRIMEERPROEF
Dit is een van die belangrikste reëls wanneer dit kom by skoonheid op jou troudag. Nie net kan jy dalk opeindig om soos iemand te lyk wat jyself nie herken nie, maar jy kan dalk ook ʼn hewige velreaksie hê van die produkte wat die grimeerkunstenaar gebruik. Dit is daarom beter om vroegtydig seker te maak dat jy en jou vel gelukkig is met die eindresultaat.
KLEUR JOU HARE TEN MINSTE TWEE WEKE VOOR DIE TYD
As jy ’n nuwe kleur wil probeer… en die eindresultaat is nie waarop jy gehoop het nie, kan jy nog ’n plan maak om dit reg te stel twee weke voor die tyd. Maar ’n dag voor die tyd gaan groot chaos veroorsaak. Jou hare is jou kroon, so maak seker dit lyk mooi en dat jy gemaklik is daarmee.
TOETSBESTUUR JOU VERBRUININGSMETODES DRIE MAANDE VOOR DIE TYD
Wat goudbruin op jou vriendin uitgekom het, is dalk kanariegeel op jou vel. Hierdie is ʼn takie wat jy vir jou troudag eerder aan die kenners moet oorlaat, as om dit self tuis te probeer. Wees versigting, want ʼn sonbed kan jou dalk laat vervel en verbruiningsmetodes wat jy aanspuit, sweet dalk te gou af op jou vel as gevolg van die hitte. Vind hierdie dinge betyds uit, voor jy geel of met strepe voor die kansel staan. Niemand wil dit oorkom nie en daarom is dit belangrik om reeds lank voor die troue te begin moeite doen met jou skoonheid.
LOOP JOU TROUSKOENE IN
Jou troudag gaan dalk vir jou soos ʼn blits verbygaan, maar dis ʼn lang dag vir jou voete en daar is niks so ongemaklik soos ongemaklike skoene nie. Troufoto’s word ook nie meer skoolstyl geneem, waar almal in ʼn ry sit en grinnik nie. Fotograwe verwag beweging en ʼn stralende glimlag, iets wat moelik is om te doen as jou voete vol blase is. Ons praat nie eers van die dansvloeropening nie! Maak dus seker jy het jou skoene al ingeloop voor D-dag.
DIE MOENIES
MOENIE STREPE IN DIE SON BRAND NIE!
Tensy jy van plan is om poedelkaal in die son te gaan lê, vermy dit eerder geheel en al die paar maand voor die troue. Min dinge is so onooglik as wit waar dit bruin moes gewees het en andersom.
MOENIE DIE MAAND VOOR DIE TROUE MET NUWE VELSORGPRODUKTE BEGIN NIE
As jy ʼn radikale verandering in jou velsorgprodukte wil maak, is dit beter om dit ten minste drie tot ses maande voor die tyd te doen. So kry jy die maksimum effek van die produkte en kan jy ook betyds agterkom as dit nie vir jou vel werk nie. Jy wil tog nie rooi vlekke op jou groot dag hê nie…
MOENIE JOU LAASTE DAG VAN VRYHEID TE HARD VIER NIE
Bloedbelope oë pas nie by jou trourok nie. So stadig met die voggies en hidreer, hidreer, hidreer.
MOENIE TWEE DAE VOOR DIE TROUE WAKS- EN GESIGBEHANDELINGS DOEN NIE
Ons almal weet hoe ons lyk wanneer ons gegaan het vir al die behandelings – rooi en opgehewe – wat jy glad nie assosieer met skoonheid nie. Doen hierdie dingetjies so ’n week voor die tyd, sodat jou vel tyd het om te herstel en op sy beste lyk. Skoonheid is nie iets wat oornag gebeur nie, dit neem tyd en moeite.
Die tonge gaan altyd klap op ʼn troue, sorg dat hulle in jou geval nie uitgepraat raak oor hoe ongelooflik mooi jy gelyk het nie. En onthou die grootste MOET van hul almal… slaap genoeg! ’n Slapende skoonheid, is die volgende dag ’n stralende skoonheid.
Kliek hieronder vir betroubare, bekostigbare diensverskaffers wat jou kan help om op jou beste te lyk op jou troudag…
Foto: Easy Weddings