Jou skoonma kan jou getroude lewe óf aangenaam maak, óf onplesierig. Dit is daarom belangrik om van die begin af julle verhouding reg af te skop. Hier is ’n paar wenke oor hoe jy hierdie saak kan benander.
Min voornemende bruide (of bruidegomme) het nie nagmerries oor hul toekomstige skoonma nie. As jy die fliek Monster-in-Law gekyk het sal jy weet hoe sleg dinge verkeerd kan loop. Hoe kan jy hierdie slaggate vermy?
Hier is ’n paar maniere om haar sommer uit die staanspoor te beïndruk:
SLUIT JOU SKOONMA IN BY DIE TROUREËLINGS
’n Ma wil deel wees van haar kind se troue. Besluit saam met jou verloofde watter areas oopgestel kan word vir jou skoonma. Al is dit nie presies wat julle in gedagte het nie, is dit noodsaaklik om haar te laat haar voel dat sy ’n belangrike deel is van al die opwinding. Dit maak seer om uitgesluit te word van so ’n belangrike geleentheid.
WEES ALTYD EERLIK EN BELEEFD, MAAR REGUIT
Een ding wat geen skoonma kan verduur nie is oneerlikheid en agterbaksheid. Julle gaan ongetwyfeld verskillende opinies hê oor baie dinge. Daar is geen rede om nie jou standpunt te stel nie. Die manier waarop jy dit doen is egter belangrik. Al verskil jou opinie van hare, wees altyd beleefd, eerlik en reguit. Dit sal respek afdwing en ook van die begin af die grense vaslê.
Behandel haar kind te alle tye liefdevol en met respek – voor en agter haar rug. Humeure kan goed opvlam voor die troue en natuurlik ook daarna, maar om onbeleefd te wees teenoor jou verloofde voor jou skoonma gaan jou jare se onmin op die hals haal.
VIND UIT WAAROOR SY SENSITIEF IS
Elke mens het sensitiewe knoppies wat jou verkeerde kant opvryf. Vind uit wat jou skoonma se bloeddruk laat styg. Wees versigtig vir sulke onderwerpe. As sy met jou gesels oor iets waarmee jy hoegenaamd nie saamstem nie, hou verby en hou jou opinie vir jouself. Wees diplomaties en swaai die gesprek in ’n ander rigting. Vermy onnodige konfrontasie of ’n bitsige antwoord.
DOEN JOU HUISWERK DEEGLIK
Vind uit wat jou skoonma se belangstellings is en gesels met haar daaroor. Doen moeite om haar te leer ken en uit te vind wat haar passies in die lewe is. Nie net omdat sy jou skoonma gaan wees nie, maar met opregte voornemens. Neem haar uit vir koffie of ontbyt. As sy ’n spesifieke stokperdjie het, koop ’n bekostigbare geskenkie in daardie lyn. Dit kan net jou aandele laat styg.
DEEL JOU DROME MET HAAR
Deel jou drome met haar sodat sy jou beter kan leer ken en veilig kan voel oor haar kind se toekoms saam met jou. Die verhouding met jou skoonma speel ’n groot rol om jou huwelikslewe op ’n goeie en gesonde grondslag te begin en te hou. Eerlikheid en respek bly ’n belangrike faktor in alle verhoudings. Moenie onaangename insidente onder die mat vee nie. Gesels daaroor op ’n kalm manier en bewaar die vrede.
Artikel: Hettie Coetzee
Foto: She Knows