Skryfbehoeftes speel ’n groot rol wanneer jy besluit om te trou omdat dit iets verklap oor die styl en kleurskema van jou troue. Liz-Mari Myburgh van Creatif with Lizzy verklap wat nuut is in die wêreld van trouskryfbehoeftes vir hierdie jaar.
Na die opgewondenheid van die ring aan jou ringvinger is daar niks lekkerder as die eerste save the date of trou-uitnodiging wat aankondig dat julle groot dag op pad is nie.
Vanjaar, sien ons hoe verlede jaar se neigings net verder uitgebrei word, om skryfbehoeftes nog mooier en uniek te maak om tot die algehele “wow” van jou troue by te dra. Die volgende temas is veral gewild: botanies-geblom, aards-natuurlik en speels-modern.
BOTANIES-GEBLOM
Skryfbehoeftes vir hierdie tema móét mooi wees. Daar is soveel elemente en kleure wat gekombineer kan word om as’t ware ʼn stukkie kuns te skep. Kyk hier veral na die waterverf tegniek, die eenvoud van wit lenteblomme of kleurkontras van helderkleure. Vir die natuur(liker) bruid binne jou is die watermerk silhoeët van veldblomme, grasse en sade die hedendaagse alternatief. Kyk ook uit vir die nuwe gunstelinge – groen en pienk.
AARDS-NATUURLIK
Skryfbehoeftes vir hierdie tema gaan alles oor tekstuur. Dit is hout, grof, ru en eenvoudig net aards. Gebruik hout saam met diep smeulende kleure. Dink byvoorbeeld aan die kleur van pruime en granate wat gekomplimenteer word met ʼn grys-groen om dit vars te laat lyk. Maak jou skryfbehoeftes van hout of elemente daarvan. Laat die grein van die hout karakter gee aan jou skryfbehoeftes. Gebruik materiaal lint met growwe tekstuur vir ekstra afronding. Hou dit steeds stylvol en eenvoudig.
SPEELS-MODERN
Met skryfbehoeftes vir hierdie tema gaan dit alles oor pret… Pret om te waag. Pret met strepe. Pret met hedendaagse produkte. Swart en wit is hierdie tema se fondament. Gebruik dít vir die strepe en rond dit af met lasersnit elemente, soos ʼn omslag, om dit meer deftig te maak. Goud en pienk is veral vanjaar se gewilde kleurkombinasie saam met die gestreepte swart en wit.
Ander neigings om vanjaar toe te pas met jou skryfbehoeftes – ongeag jul tema, is, koevert inlaste wat die res van jou skryfbehoeftes en tema komplimenteer. Verder staan handgetekende illustrasies ook uit en word baie uniek aan die bruidspaar gedoen. Die geometriese vorm van die jaar is ovaal, terwyl sjampanje die nuwe kleur op die horison is. Nou is weer jou kans vir foiling as jy van so ietsie wat blink hou. Tipografie en die gebruik van foto’s bly steeds in. Van jou save the date tot by jou dankie-kaartjie. Wees tog seker om foto’s van ʼn gestileerde fotosessie te gebruik sodat alles deel is van ʼn versameling items vir jou troue.
Wees seker oor die styl en ontwerp wat jy kies. Elke skryfbehoefte van jou troue moet deel wees van ʼn groter pakket wat jy bymekaar kan sit. Eenheid bly die top-neiging vir skryfbehoeftes vir 2016.
Foto’s: Little White Ribbon Photography