’n Strooimeisie word gekies om die bruid met raad en daad by te staan voor, gedurende en na die troue. Yolanda Wessels ondersoek wat hierdie lid van die trougevolg se pligte behels.

Om gekies te word as ’n strooimeisie, is ’n eer en teken van ware vriendskap en vertroue. Die bruid maak staat op jou hulp en ondersteuning, deur die verskillende beplanningsfases tot die groot dag aanbreek. Maar wat presies word nou eintlik van jou verwag?

Die beste is om saam om ’n tafel te sit sodat die voornemende bruid met elke strooimeisie kan bespreek wat haar rol is op die dag. Sodoende is daar geen misverstande of onduidelikheid nie en weet jy presies wat gedoen moet word.

Die deurlopende rol is dié van ondersteuning aan die bruid, sodat alles glad verloop. Hetsy dit reëlings help tref of hare platstryk vir ’n foto.

Behalwe vir emosionele ondersteuning (die troureëlings kan op sommige dae sy tol eis), om haar te laat glimlag wanneer sy eerder voel om te huil, maak sy ook staat op logistiese ondersteuning.

As regterhand van die bruid, bestaan jou rol grotendeels uit die volgende:

  • Oor die algemeen weet ’n bruid presies hoe haar droomrok moet lyk. Maar soms het sy tog jou raad nodig voordat sy haar finale besluit maak. Gee jou opinie wanneer sy vra oor die styl van die rok, skoene, juwelierware of enige ander bykomstighede. ’n Strooimeisie se werk is immers om die bruid te help om die beste keuses te maak vir haar mooiste dag.
  • ’n Strooimeisie moet ook fisies betrokke wees by die voorbereidings vir die troue. Help om bykomstighede, skryfbehoeftes, geskenkies, ensovoorts te maak as die bruid jou vra… of selfs om die uitnodigings te adreseer en te pos. Moet egter nie oorvat nie en hou by wat die bruid jou vra om te doen.
  • As jy die hoofstrooimeisie is, is dit jou werk om seker te maak dat die res van die gevolg doen wat hulle moet, rokke pas, juweliersware kry en help waar hulle kan. Dit is ook jou plig om toe te sien dat almal se hare en grimering op die dag reg is, dat die ruikers en skouerruikers vir elkeen in plek is en dat almal betyds is vir die verrigtinge. Jy moet ook almal voorsien van alle inligting rondom hul take betreffende die naderende troue sodat alles seepglad verloop. Die strooimeisie moet ook die bruidstee reël, met of sonder die hulp van ander partye. Skakel egter ook met die bruid se ma en skoonma om seker te maak dat jy nie op tone trap nie.
  • Op die dag van die huweliksbevestiging moet die strooimeisie die bruid help om aan te trek en alle die laaste minuut goedjies reg te kry.
  • Help die bruid voordat sy die kerk binnegaan om seker te maak dat haar rok, sluier, hare, ruiker ensovoorts alles perfek lyk.
  • In die kerk kan die strooimeisie die bruidsruiker vashou tydens formaliteite.
  • Help die bruid om haar rok reg te kry vir die onthaal of met enige verstellings wat gemaak moet word. Hulp met hare en grimering is ook welkom. Die strooimeisie kan ook help om met die gaste te skakel, almal bymekaar te kry vir die nodige foto’s en inligtig vir die seremoniemeester deur te gee. Dit sal baie druk van die bruid afneem as sy nie heeltyd gaste se vrae hoef te beantwoord nie. Die bruid moet haar geensins bekommer oor ’n skedule nie, dit is jou werk. Hou haar op hoogte wat wanneer gebeur en waar sy moet wees.
  • Dit word baiekeer van die strooimeisie vereis om ’n heildronk in te stel op die troue. Maak seker dat jy goed voorberei as die eer jou te beurt val.
  • Help die bruid gedurende die aand as sy uitrustings moet verander en maak seker dat al haar bykomstighede veilig gebêre word. Veral dié wat gehuur is. Jy kan ook help om die week na die troue hierdie bykomstighede en selfs die trourok terug te neem na die plekke wat dit verhuur het.

Die drie belangrikste rolle van enige strooimeisie, is dus om die bruid te ondersteun, te verseker dat alles glad verloop en natuurlik om die troue te geniet!

Foto: Chic Vintage Brides

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA