trou-idees
Trou-idees is iets wat elke jaar verander, en as jy wil seker maak dat jou troue uniek is, moet jy uit die boks uit dink wanneer dit kom by vermaak, tradisie ensovoorts. Gina van Staden het gaan uitvind wat gewild gaan wees volgende seisoen…

Hou jy daarvan om uit te staan of om anders te wees? Dan hoef jy nie met ’n vaal troue tevrede te wees nie. Lees verder om ’n paar unieke trou-idees te kry!

LIEDJIES OP AANVRAAG
Vra julle gaste om ’n liedjie-idee te stuur saam met hulle RSVP’s. Só sal niemand net rondsit wanneer die tyd vir dans aanbreek nie.

TROU HASHTAGS – EEN VAN DIE BESTE TROU-IDEES
Fotograwe is ongelukkig nie alomteenwoordig nie, so om ’n hashtag (#) te maak vir julle troue en dit reeds op die uitnodigings te sit, sal sorg dat geen oomblik van julle troue gemis word nie. Gaste kan dan al die foto’s wat hulle neem op sosiale media plaas en van die hashtag gebruik maak.

WEGGOOIKAMERAS OP DIE TAFELS
Om weggooibare kameras vir gaste te gee kan van onskatbare waarde wees. Dis nie net een van die oulikste trou-idees vir die komende seisoen nie, maar is ook voordelig vir julle troualbum, sowel as om julle gaste ekstra opwinding te verskaf en besig te hou.

LINTSTOKKIES IN PLAAS VAN KONFETTI
Gepraat van oulike trou-idees – lintstokkies (dink gimnastiek) wat verskeie kleure lint ophet kan sóveel meer visuele impak hê op julle troufoto’s. Laat die gaste dit in spiraalvorms waai, of as die wind waai kan hulle dit net vashou.

GASTEBOEK CANVAS
In plaas daarvan dat gaste boodskappe skryf in ’n boek of net seënwense op video vaslê, probeer gerus om ’n groot canvas en ’n hele paar kleure verf en kwasse te kry. Die gaste kan boodskappe opverf en dié wat kunstig is kan ’n prent of twee skilder.

TROU-PIÑATA
Die gaste kan biefies skryf en in ’n piñata sit, wat julle saam kan oopslaan op julle eerste huweliksherdenking.

LANTERNS IN PLAAS VAN BLOMME
Blomme was nog altyd die tradisionele keuse, maar strooimeisies kan eerder met lanterns die gangetjie afstap.

TROU-KUNSTENAARS
Fotoʾs sal altyd die belangrikste elemente wees om julle trou-herinneringe vas te vat, maar om ’n kunstenaar te kry wat foto’s vinnig kan skilder of skets, is een van die trou-idees wat julle troue beslis meer uniek sal maak.

Almal wil hê dat hulle gaste nog lank na die troue daaroor sal praat en om een (of meer) van hierdie unieke trou-idees te gebruik, sal beslis sorg daarvoor.

Foto: Brit

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA