Trougeskenke kan wissel van huisware tot kontant, maar hoe kan julle seker maak dat julle kry wat julle graag wil hê? An-Sophie Lourens het raad.

Heelwat mense deel ’n liefde-haat verhouding met trougeskenke. Deesdae is dit so lekker om die regte geskenk te kan kies met ’n bruidspaar se wenslysie by ’n winkel. Aan die ander kant wroeg ’n mens soms met die idee dat kontant of ’n geskenkbewys dalk beter sal wees?

Hier is ’n paar wenke om die afdeling van ’n troue te benader:
* ’n Bruidspaar mag ’n wenslysie hê. Dit is mos ’n groot bederf om julle nuwe nessie te skrop met julle trougeskenke. Deesdae kan ’n mens amper by elke winkel ’n wenslysie maak, waarvan jou gaste dan kan kies en keur. Dit is baie gerieflik en help hulle om te besluit wat om vir julle te koop. Dit voorkom ook dat jy twee van dieselfde trougeskenke kry, want sodra ’n gas ’n spesifieke geskenk van julle lysie af koop, word dit van die lysie afgehaal.

Hier is vyf plekke waarby jy jou trouregister kan laat opstel:
1. Woolworths
2. @home
3. Mr Price Home
4. YuppieChef
5. Bespoke Registry

* Maak seker jou gaste weet van hierdie lysie deur dit op die uitnodiging aan te dui of vir jou bruidsmeisies te gee. Probeer om wenslysies by meer as een winkel op te stel en om trougeskenke in verskillende prysklasse te kies. As iemand dan wel iets by die een winkel wou koop, wat reeds gevat is, kan hulle ander opsies oorweeg.

* As julle eerder net geskenkbewyse of kontant verkies, dui dit ook so aan op die uitnodiging. Party paartjies se hele huis is al uit die boks en hulle verkies eerder om die geld op die wittebrood of vir ander benodighede te gebruik.

* Gaste kan selfs kreatief wees en meer persoonlike waarde aan trougeskenke heg deur iets handgemaak vir die bruidspaar te gee. Maak net seker dit is wel iets wat die bruidspaar sal kan gebruik en hulle smaak of styl komplimenteer. ’n Handgeskryfde resepteboek, as die bruid lief is vir kosmaak of tuisgemaakte souse en konfyt as dit een van hulle gunstelinge is, sal voorwaar ’n geskenk ryk aan liefde wees.

So van trougeskenke gepraat, die dankiegeskenkies wat ’n bruidspaar vir hulle gaste gee kan net soveel bekommernis veroorsaak. Hier is ’n paar wenke hoe om dankie te sê:
* Dankiegeskenkies is nie ’n moet nie, maar dit is wel ’n spesiale nagedagtenis, wat gaste altyd sal herinner aan julle spesiale dag.

* Kies iets wat mense kan gebruik of een of ander nut het, anders is dit net nog ’n wit olifant. Dink aan iets prakties wat in die huis, die tuin of selfs in jou kar kan gebruik word.

* Iets lekker om te eet is altyd ’n bederf! Dit kan wees ’n lekker smeer vir ’n geroosterde broodjie of iets om aan te peusel vir daardie honger gaatjie net voor jy gaan slaap (wat gewoonlik net met iets soets gevul kan word.) Enigiets wat jou maag begeer.

* Jy kan vir iemand wie jy ken wat ’n bakster van formaat is (jou ouma, tannie of buurvrou) ook vra om iets te maak. Dalk ’n paar koekies in mooi papier toegedraai of klein potjies konfyt. So betrek jy sommer ook mense wat graag ’n handjie wil by sit.

*Moenie te veel geld daarop spandeer nie. Dit is belangrik, maar dit gaan nie maak dat jou gaste die troue meer gaan geniet nie. Wees kreatief en probeer om dit self te maak, of span jou strooimeisies in om jou te help.

Trougeskenke en dankiegeskenke, of dit klein of groot, handgemaak of gekoop is, dit bly ’n bederf. Onthou, op die einde van die dag is die belangrikste nie net die fisiese geskenk nie, maar ook die tyd wat jy aan die ander persoon gegee het.

Foto: Bridal Guide

Kliek hier as jy geskenke vir jou gevolg soek…

EDEN & CO QUALITY LEATHER GOODS (LANDSWYD)
WEBBLAD  ♥  FACEBOOK  ♥  E-POS

Eden_and_Co

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA