’n Trouhustmerk is in vandag se tyd nogal heel gewild. Maar wat is die doel daarvan en hoe kies jy een? Lees verder om uit te vind.
So, julle beplan ’n ultra-moderne troue, met ’n trouwebblad, elektroniese uitnodigings, ’n gesamentlike e-posadres en spesiale trouprofiele op verskeie sosiale netwerke. Die logiese stap, is om in so ’n geval ook ’n trouhutsmerk te hê.
WAT IS ’N TROUHUTSMERK?
Buiten vir die prettige element wat dit na jou troue en sosialemediaplatforms bring, is dit ook ’n baie persoonlike en handige ding om aanlyn te gebruik. As almal dieselfde trouhutsmerk gebruik, wanneer hulle byvoorbeeld foto’s deel van julle dag, is dit maklik vir al jou gaste om die verskillende foto’s aanlyn op te spoor. Dis ook ’n heerlike manier om julle spesiale dag met diegene te deel wat ver bly en nie daar kon wees nie… en vir ou skoolmaats om te sien hoe jy gelyk het op jou mooiste dag.
HOE KIES JY ’N TROUHUTSMERK?
Hier is vier maniere om die beste trouhutsmerk te kies:
1. GEBRUIK JULLE NAME
’n Trouhutsmerk moet persoonlik en eie aan julle spesiale dag. So dis ’n goeie idee om julle name, of dele daarvan, vir hierdie doel te gebruik. Dit kan natuurlik ook julle trouvan wees, soos #cloetetroue of #diecloetes. Dis belangrik dat die trouhutsmerk wat julle kies vriende en haste aan julle herinner.
2. WEES SLIM
As julle name of vanne van so ’n aard is dat dit in iets slim omskep kan word – soos byvoorbeeld as julle van Fortuin of Geluk is – kan julle slim woordspelings doen om die gevoel en aard van die troue vas te vang. Julle kan ook ’n algemene tema kies soos #liefde en vra dat almal dit saam met julle hoof-hutsmerk gebruik. Wees kreatief. Maak dit absoluut jou eie – kyk byvoorbeeld wat die glanspaartjie, Bouwer en Leandi gedoen het met #boschjouself en #liefdewen.
3. MAAK SEKER DAAR IS NIE NOG SO ’N TROUHUTSMERK NIE
Trouhutsmerke is nie privaat-eiendom nie en daar is ongelukkig baie mense met dieselfde vanne en name. Maak seker dat joune uniek is, maar ook beskikbaar en dat jy nie iemand anders s’n gebruik nie. Dit sal vir almal wat betrokke is baie ongemaklik wees.
4. DEEL DIE TROUHUTSMERK MET JOU GASTE
Sodra julle besluit het op julle hutsmerk, moet julle die gaste daarvan laat weet, sodat hulle dit kan begin gebruik. Plaas dit op julle trouwebblad, of stuur dit per sms of e-pos uit. Verduidelik ook hoekom dit belangrik is om dit te gebruik. Dis nie net bekendes wat dit kan doen nie.
Onthou ook om darem nie te streng te wees met gaste wat vergeet het om julle trouhutsmerk te gebruik of dit dalk verkeerd gebruik het nie. Laat dit gaan of vra hulle op ’n mooi manier om dit net by te voeg.
#LekkerBeplan