’n Troukaartjie is die eerste amptelike wense wat jy vir ’n getroude paartjie stuur. An-Sophie Lourens het raad vir die bewoording.
’n Mens se gedagtes kan vinnig, vinnig in ’n doodloopstraat vasgekeer word as dit kom by wat om te skryf in ’n troukaartjie. Jy probeer dit dalk spesiaal maak, maar die woorde kom net nie reg uit nie.
Ons het gaan ondersoek instel om jou te help om die bruidspaar nog meer spesiaal te laat voel op hulle groot dag. Hier is die moets en moenies vir die perfekte troukaartjie:
MOENIE:
• Moenie ou koeie uit die sloot uitgrawe nie. Hierdie is mos nou die bruidspaar se nuwe begin.
• Moet eerder nie iets noem van toekomstige kinders nie net omdat jy aanneem die bruidspaar gaan kinders kry nie. Dit mag dalk ’n sensitiewe onderwerp wees.
• Seksistiese grappies moet dalk eerder ook vermy word. Dit mag dalk negatiewe gevoelens skep en julle vriendskap skade aan doen.
• Grappies oor die wittebrood of die huweliksaand moet ook eerder vermy word. Die kaartjie mag dalk hardop gelees word wat ’n paar mense met bloedrooi blosende gesigte gaan los.
WAT OM TE ONTHOU OM IN DIE TROUKAARTJIE TE SKRYF:
• Gelukwensings aan beide die bruid en die bruidegom. Selfs al het jy nie baie ooghare vir een van die twee nie, hulle albei het dus getrou.
• Bedank hulle dat jy kon deel wees van hulle spesiale dag. Troues is duur en hulle het ’n hele rand spandeer op jou om die aand te geniet. Deesdae is dit ’n voorreg om na ’n troue toe genooi te word, wys jou waardering.
ANDER BELANGRIKE PUNTE OM TE ONTHOU VIR DIE TROUKAARTJIE:
• Maak seker die bruidspaar se name is reg gespel. Daar is baie maniere om te verseker dat jy die regte spelling het. Dit mag dalk vir party mense geen probleem wees nie, maar wel ’n irritasie vir ander.
• Maak die troukaartjie persoonlik. Dit is baie moontlik dat die bruidspaar die troukaartjie vir ’n hele paar jaar later nog gaan hou, dus sal dit vir hulle nog meer spesiaal wees as hulle jou uniekheid daarin sien en onthou.
IDEES OOR WAT OM IN DIE TROUKAARTJIE TE SKRYF:
• Ons wens albei van julle ’n gelukkige, liefdesvervulde toekoms toe.
• Mag julle trou die perfekte eenheid skep van twee gelyke mense. Respekteer mekaar en hê mekaar lief vir julle ooreenkomstighede, maar waardeer mekaar ook vir julle verskille.
• Ek wens vir julle al die geluk in die wêreld toe vir julle nuwe toekoms saam.
• Alle voorspoed vir julle aan die begin van ’n nuwe lewe saam.
• Mag julle albei mekaar se lewens verryk.
AANHALINGS OM IN JOU TROUKAARTJIE TE GEBRUIK:
“Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.” – C.J. Langenhoven
“Daar is net een geluk in die lewe – om lief te hê en om lief gehê te word.” – George Sands
“Liefde is wanneer die ander persoon se geluk belangriker is as jou eie.” – H. Jackson Brown, Jnr
KLIEK ONDER OM OULIKE TROUKAARTJIEONTWERPE TE SIEN!