’n Troukoördineerder en troustilis is twee heeltemal verskillende diensverskaffers, alhoewel daar soms van hulle pligte oorvleuel. Christell du Preez van The Peachy Peony verklap wat die verskille tussen die twee is.
Wanneer dit by jou troubeplanning kom, is dit baie belangrik om te besluit wat jou behoeftes is en wat jy van jou diensverskaffers benodig. Sommige bruide voel dat hulle van begin tot einde iemand nodig het om te help. Ander wil eerder alles self beplan, maar kort iemand om die dag van die troue beheer te neem. Party venues het iemand om jou te help, maar hulle vorm net deel van die fisiese dag en jy kort hulp om jou prentjie aan mekaar te sit.
In hierdie artikel bespreek ons die verskil tussen ’n troukoördineerder, ’n troustilis en ’n dag-van-koördineerder, sodat jy ’n volledige prentjie van elk kan kry en hoe hulle aan jou behoeftes kan voorsien.
DIE TROUKOÖRDINEERDER
Dink hier aan die fliek The Wedding Planner. Hierdie diensverskaffer is gewoonlik van die begin af betrokke by julle beplanning. Jy sal byvoorbeeld vir jou troukoördineerder kan sê hoe jy graag wil hê die venue moet lyk en hy of sy sal dan ’n lys saamstel en saam met jou en jou verloofde na die geskikte plekke gaan kyk. Die troukoördineerder sal dieselfde doen om jou te help om al jou diensverskaffers bymekaar te kry en sal ook seker maak dat al jou behoeftes met hulle gekommunikeer word. Jy hoef dus oor niks bekommerd te wees nie en alles behoort seepglad te verloop voor en op die dag. Die troukoördineerder weet wat elke sekonde van die dag moet gebeur en sal ook seker maak dat al die gaste op die regte plek sit, op die regte tye doen wat van hulle verwag word en dat die regte kos bedien word. Die lekker ding daarvan om van die begin af ’n troukoördineerder aan boord te hê, is dat hulle diensverskaffers (en die gehalte van hulle werk) goed ken en dus die beste voorstelle vir jou begroting kan maak. Sit iemand in beheer van julle troue met hierdie opsie!
DAG-VAN-KOÖRDINEERDER
Baie keer voel ’n paartjie dat hulle eerder self hul troue wil beplan en saam die paadjie stap, maar besef dat hulle wel op die dag van die troue hulp sal nodig hê. In so ’n geval sal hulle dan gebruik maak van ’n dag-van-koördineerder. Hierdie tipe diensverskaffer kom omtrent drie maande voor jou troue aan boord en skakel dus die troukoördineerder uit. Hulle vorm ’n prentjie van jou troue en wat jy wil hê, dan sal hulle saam met jou na die venue toe gaan en deur stap sodat jy kan uitwys waar jy alles wil hê. Dag-van-koördineerders doen dan die opstel van die troue die dag voor en die dag van die troue (afhangende wat hulle en die venue se kontrak sê). Hulle doen die fisiese opstel van die kapel en onthaal en maak seker dat die tafels lyk soos wat jy dit graag wil hê. Jy, as bruid, moet net seker maak dat daar byvoorbeeld ’n bloemis is, die koördineerder sal dan vir die bloemis sê wat op elke tafel kom en seker maak dat die finale afrondwerk gedoen word. Hierdie soort koördinerder haal baie stres van ’n bruid af, omdat hulle daardie laaste week met diensverskaffers sal kommunikeer om seker te maak hulle weet hoe laat om op te daag of wanneer om wat te bring.
TROUSTILIS
Tema? Kleurskema? Atmosfeer? Pinterest-idees? Hoe besluit jy, as bruid, wat om te kies en wat om te los? En dit is so belangrik om reg te kies. Jy weet dalk wat jy wil hê en die venue het ’n binnehuiskoördineerder wat jou die dag van die troue help opstel, en jy soek nie noodwendig iemand wat alles vir jou reël en beheer vat nie. Jy soek net iemand wat kan seker maak dat al jou elemente bymekaar pas en dat jou troue mooi saamgestel lyk. Dit is wat ’n troustilis doen. Hulle help om die regte tafellopers, onderborde, serviette en ander bykomstighede te kies, kleurskemas saam te stel en dekorelemente by te voeg. Hierdie diensverskaffer help om lewe te gee aan jou idees en om seker te maak dat alles perfekt lyk op die dag. Maar dit is waar hulle dienste stop. Jy gaan steeds ’n troukoördineerder nodig hê as jy beplanning en reëlings in iemand anders se hande wil plaas.
Dit maak nie saak op watter tipe troukoördineerder jy besluit nie, solank jy seker is dat die persoon se dienste al jou behoeftes dek. Lees ook hulle kontrak goed deur om seker te maak wat hulle dienstes alles insluit en maak dan jou besluit.
Foto: Arabia Weddings
SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?