Trouskryfbehoeftes kom in alle vorms en groottes, maar soms is dit nodig om iets tradisioneel te doen. An-Sophie Lourens vertel jou hoekom.

Datastokkies, ʼn webwerf, fotorame… Dit is alles oulike maniere om moderne trouskryfbehoeftes te skep. Tog soek sommige bruidspare nog ʼn tradisionele kaartjieuitnodiging. Iets om in ʼn spesiale boek te bêre of op die yskas te hou.

Tradisionele, selfgemaakte trouskryfbehoeftes kan jou gaste regtigwaar spesiaal laat voel om na jou troue toe uitgenooi te word of om by ʼn tafel aangewys te word. Daar is nogsteeds soveel kreatiewe idees vir troukaartjies en trou-uitnodigings.

Ina Calitz van Inz Dreamz is ʼn boffin as dit kom trouskryfbehoeftes vir troues. Sy het ons bietjie meer vertel van verskillende kaartjies wat sy al gedoen het. Lees hier vir meer idees oor troukaartjies en naamkaartjies.

Ina gebruik altyd glanspapier as sy trou-uitnodigings maak wat die kaartjie elegant en afgerond laat lyk. ʼn Mens kan werklikwaar enige soort trouskryfbehoeftes maak. Dit kan volgens jou troudag se kleurskema of tema wees, byvoorbeeld Tyd.

Vir naamkaartjies kan ʼn mens selfs die dankiegeskenkie inkorporeer. Ina het byvoorbeeld al boksies met naamkaartjies gemaak wat vier coasters binne-in gekry het. Dit lyk baie oulik en dan kry jy darem twee vlieë met een klap.

Ina het ʼn groot passie vir wat sy doen en dis verseker waar dat as jy lief is vir jou werk jy goeie werk doen. Sy beaam daarop en sê: “Dit veskaf ure se plesier om my talente uit te bring en om tevredenheid te sien van bruide, en ander kliënte. Dit waarborg dat ek op die regte pad is.”

Die koste van die trouskryfbehoeftes is die laaste ding waaraan sy dink as sy kliënte help. Sy probeer haar kostes so na as moontlik aan kosprys hou. Ina weet dat baie bruide self hulle kaartjies wil maak of kaartjies vir so goedkoop as moontlik wil maak. Sy gee dus glad nie om, om vir ons ʼn paar wenke en idees te gee oor hoe om self jou trouskryfbehoeftes te maak nie:
* Besluit op ʼn kleurskema van jou troue.
* Besluit dan op ʼn tema, indien jy wel ʼn tema het.
* Besluit of jy geskenkies gaan gee en hoe uitgebreid jou tafel moet lyk, soos of jy ʼn naamkaartjie by elke bord wil hê, of alternatief net die name op die tafelplasings by die ingang van jou vertrek/saal wil hê. Ina sê: “Ek het ʼn magdom papier en oral waar ek kom, koop ek papier – vir ingeval ek dit nodig kry. Bruide het al by my gekom met ʼn vooropgestelde idee of papier en as hulle vertrek gaan hulle met nuwe idees, nuwe kleure by my deur uit (tog te lekker).”
* Belê in goeie skêr, goeie potlood, staal liniaal goeie gom en tweekantige kleefband. Jy kan die internet raadpleeg sou jy ʼn spesifieke tipe ontwerp soek. Trek dit dan eers af op gewone wit papier en sny uit met ʼn kartelskêr. Plak met die kleefband en versier dit mooi.
* As jy ’n bosselleer-masjien het, is dit altyd ʼn goeie idee om jou karton eers te bosselleer met ʼn patroon. “Ek hou daarvan om verskillende mediums opmekaar te gebruik, byvoorbeeld ʼn effekleur karton onder en dan ʼn patroon papier/karton bo op die effekleur te gebruik.”

IDEE VIR NAAMKAARTJIES…
* Jy kan mooi klein botteltjies koop, vul met pepperminte en ʼn verskeidenheid kleure strikkies om die bokant van die deksel sit. Druk ʼn naamkaartjie en bind dit tussen die linte vas.

IDEE VIR ALLES-IN-EEN ROLLETJIE…
Neem ʼn A5-grootte papier. Trek ʼn ligte lyn, omtrent 8cm van die regterkant af (dit sal die voulyn wees). Vou vanaf die voulyn die karton van die regterkant na die linkerkant om ʼn ‘rolletjie’ te maak. Plak dit vas met tweekantige kleefband. Dan het jy ʼn plat gedeelte en aan die regterkant ʼn ‘rolletjie’. Jy kan jou gas se naam bo-op die rolletjie plak. Die rolletjie self dien as ʼn servetring. Die plat gedeelte links van die rolletjie kan gebruik word vir ʼn boodskap of ʼn spyskaart.

Ina laat dit klink soos val uit ʼn boom sonder dat jy jou beursie breek. Maklik, maklik kan jy sommer jou eie trouskryfbehoeftes maak. Alhoewel met Ina se kennis en kreatiwiteit, kan mens dit dalk eerder in Inz Dreamz se hande los.

Foto: Blue Mag Pie Invitations

KLIEK HIER OM INZ DREAMZ SE WEBBLAD TE BESOEK


 

 

 

 

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA