’n Trousoen is die eerste intieme gebaar wat julle as getroudes ervaar. Dit gebeur ook voor die dominee en julle geliefdes. Hoe moet hierdie soen wees en wat is aanvaarbaar?

’n Trousoen is ’n baie spesiale en intieme gebaar op julle mooiste dag. Net soos die res van die beplanning, moet dit natuurlik ook perfek wees, maar julle wil darem ook nie die kindergaste meer leer as wat hulle moet weet nie! So hoe lyk die perfekte trousoen en watter grense moet gestel word, sodat dit vir julle en die gaste aanvaarbaar is?

Drew Barrymore se karakter, Julia, in The Wedding Singer word juis met hierdie kwessie gekonfronteer wanneer sy en haar niggie stry oor hoe die trousoen nou eintlik moet lyk. Sy meen dat dit meer konserwatief moet wees, maar darem nie net ’n piksoentjie nie, terwyl die niggie weer meen dat dit ’n groter, meer uitspattige gebaar moet wees. Die soen wat daaruit volg is baie intiem en sag – en eintlik perfek.

Die waarheid is dat elke paartjie se trousoen uniek sal wees aan wie hulle is en hoe hulle verhouding is. Dit is dus belangrik dat julle albei gemaklik moet voel en lyk, want die kameras gaan ook nog boonop flits. Hier is raad oor hoe julle jul trousoen meer natuurlik kan laat lyk.

MOENIE DIE OOMBLIK AFJAAG NIE
Al is julle senuweeagtig, is dit nie nodig om julle trousoen af te jaag nie. Staan vir ’n oomblik stil, kyk in mekaar se oë en neem die oomblik in. Die soen sal self volg en baie intiem en romanties wees. Dit gaan immers oor julle en die oomblik, en ’n egalige sameloop lyk beter as ’n paartjie wat oorhaastig na mekaar gryp.

STAAN NABY AAN MEKAAR
As julle moet rek en strek vir julle trousoen, staan julle nie net ’n kans om te val nie, maar gaan dit ook snaaks lyk op die foto’s. Julle is getroud en mag maar naby aan mekaar staan en mekaar selfs ’n drukkie gee. Geniet die oomblik.

MAAK JULLE OË TOE!
Niks lyk so mooi en romanties soos ’n trousoen waar albei partye se oë toe is omdat hulle in die oomblik is nie.

DOEN IETS MET JULLE HANDE
Die lewe is nou nie ’n fliek nie, maar gaan kyk gerus hoe onnatuurlik ’n soen lyk wanneer mense nie weet wat om met hulle hande te doen nie. Die oomblik moet spesiaal wees en goed lyk. So, alhoewel dit spontaan moet wees, moet julle dalk net voor die tyd besluit wie se hande waar gaan wees vir julle trousoen:
Gaan julle hande vashou en oorleun; of
Gaan sy hande op jou heupe wees en joune op sy wang?

VIND BALANS
Soos voorheen genoem, gaan ’n piksoen nie werk nie en ’n soen uit Dirty Dancing sal onvanpas wees. Vind balans en maak julle trousoen perfek!

LIPWENKE VIR JOU TROUSOEN
Hoe jou lippe lyk en voel, het natuurlik ook ’n invloed op die perfekte trousoen:
*Kies kleurvaste lipstiffie, wat steeds sal mooi lyk na die soen en nie op hom agterbly nie;
*Maak seker dat jou lippe sag en vogtig is, en nie gebars en droog nie, deur voor die troue mooi na jou mond om te sien; en
*Kies ’n kleur wat sag en romanties is op die dag en hou lipglans byderhand.

’N TROUSOEN UIT DIE FLIEKS
Hier is vier trousoene, uit flieks, wat ons dink oulik was:

1.VIR ALTYD
Hugo en Nina se trousoen laat jou regtig glo dat hulle liefde vir altyd gaan hou.

2.THE CHOICE
Nadat Travis so gesukkel het om die ja-woord uit Gabby te kry, is hierdie oomblik ekstra intiem en spesiaal.

3.SEMI-SOET
Die passie en oorgawe van die soen pas by Hertjie en Karla en laat ’n mens glimlag.

4.TWILIGHT
Nadat jy al die flieks, boeke en komplikasies van hierdie verhouding moes aanskou, is dié oomblik tussen Edward en Bella baie mooi. Dit is ook een van die gewildste oomblikke in die geskiedenis van film.

Daar het jy dit, julle trousoen kan perfek wees, as die regte balans bestaan… maar op die einde van die dag is julle geluk al wat saakmaak.

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA