Christell du Preez van The Peachy Peony het gaan ondersoek instel oor wat die nuutste troutendense is wat hierdie jaar in die kollig gaan wees. Lees verder as jy in 2016 gaan trou.
2016 is al goed op dreef en die trouseisoen is volstoom aan die gang. Baie mense het gedurende die Kerstyd verloof geraak, so bruide is baie ywerig om hulle troues te beplan. Daarom het ons bietjie gaan kyk na 2016 se trougiere.
STROOIMEISIESROKKE
Strooimeisierokke het baie gemaklik geword. Dit is deesdae in die mode dat elkeen hulle eie rokke kies in skakerings van julle troukleure.
TROUKOEKE
Uit met die 3-laag-troukoek en in met enige vorm van nagereg. Iets anders, soos ’n Macaroon-koek of roomystafel is nou die in-ding. Wees kreatief, dit is juis nou mode.
SKOONHEID
Verby is die dae wat bruide maskers gedra het (van al die grimering op hulle gesigte) of soos ’n wasbeeldpoppie moes lyk. Sproete en ’n natuurlike, sagte voorkoms is nou in. Natuurlike skoonheid is reeds vanaf middel-2015 baie gewild. Die grimeerkunstenaar kies fokuspunte soos jou oë of mond en doen net moeite met hierdie gedeeltes – die ander kenmerke word lig bedek om ’n varser voorkoms te kry.
TROUKLEURE
Daar is tans twee groot giere onder troukleure; een is sagte neutrale kleure soos room, wit, sjampanje, sagte pienk (soos blush), wat dan gekombineer word met groen ruikers, en bos blomme soos rankplante. Dan is die ander gier natuurlik om baie neutraal te bly met jou tafeldoeke en eerder kleurvolle tafellopers en blommerangskikkings in te bring (byvoorbeeld pienk, oranje, pers of rooi).
SKRYFBEHOEFTES
Lasersny-skryfbehoeftes bly ’n groot gier wat van 2015 oorgedra word na 2016. Naamplaatjies, tafelnommers, strikdasse, skouerspelde is steeds gewild.
TROUGASTE
Intiemer troues, waar die fokus nie is op getalle nie, maar eerder op intimiteit en om vir hierdie handjievol gaste dit onvergeetlik te maak, word steeds verkies. Dit gaan meer oor die bruid en bruidegom as oor almal wat gelukkig gehou moet word.
KOS
Die driegang-maaltyd het ongelukkig sy dood gesterf. Paartjies bedien eerder antipasti-borde of hors d’oeuvres vir voorgereg om hulle gaste besig te hou gedurende die fotosessie. ’n Verskeidenheid kase, smere, brode en klein happies is nie net perfek om aan almal se smaakvoorkeure te voldoen nie, maar lyk ook baie mooi op troufoto’s.
ALKOHOL
Almal doen die wyn en sjampanje op die tafel ding, maar dit is vanaf 2016, taboe. In hierdie jaar kan jy baie meer kreatief wees as dit, maak ’n sjampanje-kroegtafel en laat die gaste speel met verskillende vrugte saam met sekere uitgesoekte sjampanje of maak gekonsentreerde strope van peer en gemmer of gemengde bessieaftreksel.
WEES ANDERS
As jy opsoek is na nuwe, vars idees – probeer gerus enige van die onderstaande voorstelle:
– Helder gedrukte tafeldoeke met bont patrone wat jy dan kombineer met spierwit blomme en silwer, goud of rosegold eetgerei.
– Woudtroues; trou onder ’n boom of in ’n afgesonderde area wat met bossies en ranke oortrek is. Laat jou gaste op hooibale of houtstoele sit om by te dra tot die tema.
Hooffoto: Austin Wedding Day
Foto’s: Green Wedding Shoes; Happy Wed; Ruth Eileen Photography; Wedding Sparrow; 100 Layer Cake; Carter and Cook; Ruffled Blog; Eighty Ate Food Co.; Dishing Up the Dirt; Brides; Glamour
Groepfoto: Little White Ribbon Photography
Houtstrikdasse: Vintage Yard Laser Cutting & Decor