Uitnodigings is nie net die eerste ding wat gaste van jou troue sien nie, maar dui ook aan wat die styl van julle groot dag gaan wees. Kies dus slim.
Die uitnodigings vir jou troue moet by die styl en tema van die dag pas. Dit moet dus die gevoel van jou troue aankondig. As jy dus ’n strandtroue beplan, kan jou uitnodigings maklik elemente soos skulpe, ensovoorts bevat. Uitnodigings vertel vir gaste soveel meer as net die tyd en plek, dit gee hulle ook ’n idee van hoe formeel die geleentheid gaan wees en wat hulle moet aantrek.
Hier is ’n paar vrae wat jy jouself kan afvra voordat jy op die uitnodigings vir julle troue besluit:
WAT IS DIE ATMOSFEER VAN JOU TROUE?
Gaan dit ’n formele affêre wees met ’n aansit-ete of hou jy ’n piekniektroue met vingerhappies? As jy ’n formele dag gaan hê, moet jy ook ’n meer klassieke en formele ontwerp kies vir jou uitnodiging en ook daarop let dat jou skrif daarby moet pas. ’n Meer informele geleentheid kan eenvoudiger uitnodigings hê met meer persoonlike elemente.
WATTER KLEURE GAAN KONING KRAAI?
Skryfbehoeftes kom in ’n wye verskeidenheid kleure en teksture en jy kan maklik iets opspoor wat by jou kleurskema sal pas. As jy nie noodwendig wil hê dat jou uitnodigings dieselfde kleur moet wees as jou strooimeisierokke nie, kan ’n kenner jou help om iets te kies wat dit tog sal komplementeer. Helderkleure werk goed vir buitetroues, terwyl pastelkleure ’n meer klassieke atmosfeer skep.
WAT IS DIE TEMA VAN DIE DAG?
Daar is deesdae so baie temas, wat wissel van Vintage, tot plaasstyl en selfs blomtemas. Jou uitnodigings moet natuurlik hierby aansluit en moet elemente van jou tema bevat.
WANNEER MOET JY JOU UITNODIGINGS UITSTUUR?
As jy ’n plaaslike troue het, moet jou uitnodigings so ses tot agt weke voor die troue uitgestuur word, en so tien tot twaalf weke voor die tyd as jy ’n bestemmingtroue gaan hou of oor ’n langnaweek gana trou.
’n Unieke uitnodigings kan jou gaste baie beïndruk en verseker dat verrigtinge op die regte voet afskop, so doen moeite hiermee!
Foto’s: B Studio Wedding Invitations, Pineterest