Valentynsbederf is hierdie jaar ʼn moet, want dis nie soos enige ander jaar se valentynsdag nie… Hierdie is julle eerste en dalk laaste Valentynsdag as verloofdes en dalk net die regte romantiese voorsmakie voor julle groot dag.
Met Valentynsdag om die draai, gaan hierdie artikel die geringde dames ʼn bietjie help met idees vir ʼn Valentynsbederf. Nog ʼn bonus is dat Valentynsdag hierdie jaar op ʼn Woensdag val, so dit kan net sorg vir ʼn lekker klein Saterdag, om te ontspan in die geur van liefde saam met jou verloofde.
Die idees sluit aktiwiteite wat jou beursie sal pas in, asook aktiwiteite waarvoor jy dalk ʼn bietjie sal moet spaar. Die belangrikste is dat dit een van die spesiaalste Valentynsdae in julle liefdesverhaal moet wees.
Hier is vyf oulike idees om ʼn Valentynsbederf ’n realiteit te maak:
• ʼn Buitelugfliek en -piekniek: Oakfield Farm, net buite Johannesburg, sal sorg vir ʼn romantiese atmosfeer in hulle pragtige tuine. ʼn Lekker fliek is ook net wat nodig is om bietjie te ontspan. Daar is twee opsies om van te kies: ʼn ingangskaartjie vir slegs R80 per persoon of ʼn paartjie pakket vir R400. Die pakket sluit twee ingangskaartjies, ʼn piekniekmandjie met kaas, wyn en soutbeskuitjies in. Vat jou kombers en ekstra peuselhappies en geniet ʼn aand van Valentynsbederf onder die sterre saam met jou verloofde.
• Delvera-sonsondergangstaproete: As jy in Kaapstad woon en hou van aktiwiteite in die buitelug, is hierdie die perfekte Valentynsbederf vir julle. Julle kan na die punt van Klapmutskop toe stap, waar julle ʼn asemrowende uitsig kan geniet. Bestel vir julle ʼn piekniekmandjie om aan te peusel as julle bo is, asook ʼn glasie sjampanje om die uistig en die liefde te vier. Dit is ʼn 9.75km roete wat deur die wynroetes van die Delvera Wynplaas loop. Dit begin om 17:30 en die kostes beloop R110 per persoon.
• ʼn Warmlugballonrit is op almal se wenslysie. Wieg van die Mensdom: Air-Ventures sluit ʼn uur lange rit met gratis koffie, tydens julle aankoms en sjampanje as julle land, in. Die kostes beloop R2 300 per persoon. Pak ʼn ekstra bottel sjampanje in en geniet die asemrowende uitsig saam met jou geliefde.
• ʼn Fondue- of piekniek-aand by die huis: Fondue is altyd ʼn wenner vir enige geleentheid, maar veral as dit sommer by jou eie nessie is en jy lus is vir iets romanties. Kry heerlike eetgoed vir fondue, steek kerse aan, gooi komberse en kussings op die vloer, sit julle gunstelingmusiek aan en geniet net mekaar se geselskap. Moenie die wyn vergeet nie! As jy nie ʼn fondue stel het nie en jy kry nie een geleen nie, sal Cocovanilla Foods tot jou redding kom. By hulle kan jy heerlike piekniekmandjies bestel. Gaan kyk gerus op hulle webwerf of Facebookblad oor die twee mandjies waarvan jy kan kies. Die mandjies is beslis die pad na jou verloofde se hart toe.
• “Spa special”: ʼn Pamperlangsessie is altyd ʼn groot bederf, wat mans eintlik net so baie geniet al erken hulle dit nie altyd nie. Jy kan dalk self die masseuse wees en jou verloofde bederf met ʼn rug- of voetmassering, wat verseker baie waardeer sal word. As jy ook lus het om bederf te word het Spa Beau in Pretoria ʼn spesiale aanbod vir slegs R700 vir twee persone. Dit sluit ʼn verwelkomingsdrankie en peuselhappie met aankoms in, die gebruik van hulle borrelbad en swembad en ʼn vollyfmassering vir twee.
Van fliek onder die sterre, ʼn beeldskone uitsig op ʼn berg of vanuit ʼn warmlugballon, of sommer net iets spesiaals in die sitkamer, kan hierdie Valentynsbederf saam met jou verloofde net spesiaal wees.
ʼn Valentynsbederf hoef nie ʼn kopkrapper te wees nie. Die belangrikste is om iets te doen waar julle tyd saam kan spandeer. Dink hoeveel jy op die aktiwiteit kan spandeer en waarvan julle albei hou. Geniet julle eerste en dalk laaste Valentynsdag as verloofdes!
Artikel: An-Sophie Lourens
Foto: Alexandra’s Bride Story
VIR ʼN SPESIALE TROULOKAAL, KLIEK HIER