Valentynsdag is die dag van liefde, maar is die regtig vir die man in jou lewe so belangrik? David Louw van Getroud met Rugby deel of Cupid se pyltjie sy hartsnare tref of mis op dié dag.
David Louw is bekend vir sy karakter as Petrus Steyn in kykNET se Villa Rosa. Hy is ook te sien in Getroud met Rugby en Wolwedans in die Skemer. Ons het met hom gaan gesels oor Valentynsdag en hoe hy die geliefdes in sy lewe bederf.
Sommer met die intrapslag vra ek sy opinie oor mans en Valentynsdag. “Ek dink oor die algemeen hou mans van Valentynsdag. Hulle hou van bederf, maar die meeste sal dit net nooit erken nie! Dit is seker maar die manlike ego-ding, om nie soos ’n softy voor te kom nie.”
David lag en vertel dat hy eeue laas ’n Valentyn gehad het en steeds enkellopend is. Hy voel wel dit is baie belangrik om dit steeds te vier, al is jy nie romanties betrokke by iemand nie. “Ek vier dit saam met almal vir wie ek lief is. Valentynsdag is vir álle verhoudings. Natuurlik hang dit af watter verhouding jy vier. As ek dit byvoorbeeld saam met my familie en vriende spandeer, moet dit iets in die buitelug wees, vol avontuur. Ek wil elke oomblik saam hulle geniet en hulle verseker dat hulle die wêreld vir my beteken.” Op die vraag as dit by ’n spesiale dame kom, het hy ’n vonkel in die oog. “Elkeen sien bederf anders en ervaar dit anders. Ek sal seker maak dat wat ookal ek doen dit oorspronklik, romanties, met die son wat sak, ’n bottle bubbly, lekker kos en baie lag is!
Elke Valentynsdag moet iets anders wees. Ek hou van die hele verrassingsaspek. Maar ek moet ook sê, dit moet van albei kante af kom. Dis nie net die man se verantwoordelikheid om die vrou in sy lewe spesiaal te laat voel nie. Dit moet natuurlik kom en nie geforseer wees nie.”
Is daar Valentynsdag raad wat jy het vir ander enkellopendes? “O ja, los die video games en verras haar! Sluk jou trots en vat ’n kans, sy kan nét ja of nee sê.” David vertel sy lekkerste Valentynsdagervaring was ’n lugballonvaart terwyl die son opgekom het en die slegste een toe hy agtergekom het hy is nie haar enigste kêrel nie.
Moet die meisie kan lekker eet en gemaklik wees of eerder pik aan ’n hoenderslaai? “Daar is niks lekkerder as sy net so lekker eet soos jy nie! So ek verkies dat sy vir goud gaan en eet wat sy wil. Ek hou van ’n vrou wat gemaklik is met haarself.”
VINNIGE FEITE…
BLOND OF BRUNET? “Brunet”
HAMBURGER OF SLAAI? “Slaai”
KURWES OF SLANK? “Sportief. Maak nie saak of dit slank of kurwe is nie.”
FLIEK OF DANS? “Wat van eers fliek en dan ’n lekker gooimeel, langarm, makouskietvastrap!”
EENSTUK OF BIKINI? “Bikini”
SANDALE OF PLAKKIES? “Sandale”
STIL OF SPONTAAN? “Verseker spontaan”
Artikel: Yolanda Wessels
Foto: Verskaf
SPESIALE AANBOD VIR TROUKOORS LESERS
Die Trouboek (saam met Gretha Wiid) @ R90 +
Troukoors Tydskrif (ons spesiale uitgawe) @ R50 + posgeld = R170
(saam met posgeld steeds goedkoper as by die winkels).
Kliek hier om te bestel.