Verblyf is ’n moet vir trougaste wat van ver af kom. Maar wie moet die koste dra? Gina van Staden het gaan ondersoek instel oor hierdie netelige kwessie.

Verblyf is baie belangrik wanneer jy gaste het wat van ver af na jou troue toe kom. Maar hoe benader jy hierdie situasie?

KIES DIE REGTE VENUE
Daar is baie venues wat verblyf vir gaste op die perseel het. Op hierdie manier hoef niemand na die feesvieringe by die onthaal te ry na die gastehuis toe nie en kan hulle die geleentheid sonder veiligheidsbekommernisse geniet.

WIE BETAAL VIR DIE VERBLYF?
Belangrikste sake eerste: geld. Wie betaal vir die verblyf, die bruidspaar of die gaste? Nie elke paartjie kan dit bekostig om al die gaste te huisves nie, so dis meer algemeen dat hulle die bruidsgevolg en ouers se verblyf sal inreken by hulle begroting en vir die res van die gaste die opsie gee sal gee om self verblyf te bespreek. Hierdie inligting moet net duidelik in die uitnodigings genoem word.

KOSTE
In die geval waar gaste vir hulle eie verblyf met betaal, moet die bruidspaar hulle finansiële situasie in ag neem. Dit gaan nie moontlik wees vir almal om vyfster verblyf te bekostig nie. Soms kan daar ʼn mate van onderhandeling plaasvind met gastehuise, of die bruidspaar kan net ʼn gedeelte van die kostes bydra.

ETES
Die beste opsie is om verblyf te bespreek by ʼn plek wat ontbyt ook voorsien. Indien dit nie ingesluit is nie sal die bruidspaar alternatiewe reëlings moet tref sodat daar ʼn ontbyt en boeretroos voorsien word. As daar gaste is wat spesiale behoeftes het in terme van hulle dieet, reël vooraf met die gastehuis om hulle tegemoet te kom.

BESPREKING
Maak seker dat die gaste se verblyf betyds bespeek word. Die bruidspaar kan selfs voor die uitnodigings gestuur word uitvind watter van die naaste familie en vriende belangstel om oor te slaap. In die geval waar daar minder kamers beskikbaar is as die getal gaste, kan die bruidspaar aparte uitnodigings aan die belangrikste gaste stuur vir die opsie om oor te slaap.

Die gaste speel darem ook ʼn spesiale rol in julle mooiste dag. Probeer moeite doen met hulle verblyf.

HIERDIE TROULOKAAL BIED OOK VERBLYF VIR JOU GASTE

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA