Vermaak vir kinders op ʼn troue is glad nie ʼn slegte plan as jy bang is dat die kinders die troue gaan oorneem nie. Verveelde kinders is dus woelig en kan maklik die aandag van julle ontneem.
Daar is vele maniere om kinders besig te hou en vermaak aan hulle te verskaf, maar om dit koste-effektief te doen en ook nie nog meer verantwoordelikheid op jouself te plaas nie, is ʼn ander storie.
ʼn Wenk: Probeer om ʼn speelarea af te baken. Sodoende weet die ouers wat nie die heeltyd hulle kinders in die oog hou nie, waar hulle is en jy hoef nie bekommerd te wees dat hulle op plekke speel waar dit die troue kan ontwrig nie.
Kunstige vingertjies: Jy kan ʼn hoekie maak waar die kinders kreatief vermaak kan word met verf, deeg en blinkers. As jou venue dit toelaat, maak dit in ʼn vertrek by die onthaalarea dan kan ouers nogsteeds aan die verrigtinge deelneem terwyl hulle ʼn ogie oor die kinders hou. Waarsku ouers ook voor die tyd oor die aktiwiteit, sodat niemand bekommerd is oor boeta se splinternuwe kerkuitrusting nie.
Versier ʼn kolwyntjie: Vra ʼn ouma of tannie om ʼn paar ongeversierde kolwyntjies te bak. Sit ʼn paar versier-items uit en laat die kinders hulle self so vermaak. Hulle het dan sommer ook ʼn lekkerny wat hulle doodtevrede gaan laat.
Maak ʼn paar ou, formele kledingstukke, hoedens, kieries en ou grimering bymekaar. Hulle is dan mos nou by ʼn troue, hoekom nie aantrek soos die grootmense nie. Laat hulle “trou-trou” speel by hulle eie troue. Kinders kan groot gaan met hulle verbeelding en kan vir ʼn hele ruk vermaak word met mooi aantrek en toneelspeel. Dit kan ook sorg vir baie spesiale foto’s.
Springkastele: ʼn Springkasteel kan kinders vir ure lank vermaak. Boonop spring hulle al hulle energie uit en as jy jou oë knip is almal in droomland. Daar is verskeie plekke waar jy springkastele kan huur en as jy mooi soek sal jy een kan huur wat jou nie ʼn arm en ʼn been gaan kos nie. Jy kan die opset sommer baie mooi laat lyk sodat dit nie soos ʼn seer oog uitstaan nie.
Buitelugspeletjies: Maak verskillende stasies met grasperkspeletjies, springtoue en hoepels om kinders te vermaak. Die kinders sal voel asof hulle by ʼn pretpark is en nie eers lus wees om rondom die grootmense rond te hang nie.
ʼn Fliekkamer: As jy dalk ʼn vertrek by die venue kan gebruik, al is dit sommer een van die gastekamers, stel ʼn projektor op en speel ʼn paar oulike animasieflieks. Gee vir elkeen ʼn pakkie springmielies en teen die tyd wat hulle twee flieks deur gekyk het, is almal vas aan die slaap en baie.
Onthou: Dit maak nie saak hoe goed die vermaak is nie, kinders moet altyd onder toesig wees. ʼn Bekostigbare oppasser by die troue gaan nogsteeds meer koste-effektief wees as wat tien ouerpare elk ʼn oppasser moes kry. Vra vir die ouers of hulle bereid sal wees om te help betaal, indien jy dit nie self gaan kan dek nie. Jy kan ook ʼn ouer aanstel om dalk ʼn skedule uit te werk tussen al die ouers met kinders, sodat twee of meer ouers elke halfuur na die kinders kyk en dan roteer. So is daar genoeg toesig onder die kinders en die ouers kry darem ʼn uur of so op ʼn slag om ook bietjie saam te kuier.
Goeie en gesonde vermaak vir kinders sal voorkom dat hulle dalk ʼn irritasie of oorlas sal wees op jou troue. Gebruik koste-effektiewe vermaak en vermaak wat baie energie vereis. Dit sal sorg vir ʼn gelukkige bruid, ouers en natuurlike ook gelukkige kinders!
Artikel: An-Sophie Lourens
Foto: Wellington Weddings