Versier die bokant van jou troukoek met ’n cake topper waaroor gaste nog lank gaan praat. Christell du Preez van The Peachy Peony wys jou hoe om jou eie een te maak.
Daar was ’n bakster in die 1800’s wie se dogter op trou gestaan het. Soos alle bruide, wou sy dogter ook haar troue spesiaal maak. Nadat hy lank daaroor gedink het, het die pa besluit om twee figuurtjies bo-op die koek te sit om dit mee te versier. ’n Bruid en bruidegom, wat sy dogter en aanstaande skoonseun sou simboliseer. Hierdie twee figure sou die pasgetroudes se liefde en trou aan mekaar wys.
Op die dag van haar troue, toe sy vir die eerste keer haar pa se handewerk sien, was sy oorweldig deur die moeite wat haar pa gedoen het om die simbool van haar en haar man se liefde vir mekaar te wys. Alhoewel hierdie net ’n verhaal is, bly troukoek-toppers ’n simbool van die pasgetroudes se liefde en ’n pragtige manier om ’n troukoek te versier.
Hierdie twee figure het oor die jare baie verander van ’n mannetjie en vroutjie, wat geensins soos die egpaar lyk nie, na hartjies, woorde, doelgemaakte paartjies ensvoorts. Julle kan enigiets kies wat julle voel julle liefde en verhouding die beste simboliseer. Iets wat vir julle ’n spesiale betekenis het.
Ons het bietjie gaan kyk wat Suid-Afrika se unieke troumark beskikbaar het om jou troekoek mee te versier.
THE WEDDING STORE
The Wedding Store verkoop die oulikste trou goedjies van bekers, hangers, pantoffels, japonne vir die bruid en bruidegom tot cake toppers. Hierdie silhoeëtte perspeksmannetjies en -vroutjies lyk asof dit uit ’n sprokiesverhaal kom. Omdat dit so eenvoudig is, sal dit nie aandag van jou koek afvat nie, maar eerder die prentjie mooi versier. As jy een van daardie bruide is wat bietjie meer glam soek is hierdie woorde, wat met steentjies bedek is, perfek vir jou.
GREEN ROOTS DESIGN & ART STUDIO
Green Roots Design & Art Studio het die mooiste perspeks cake toppers. Hulle kan enige bewoording vir jou maak. Wat oulik is van dit, is dat julle ’n woord of sin wat vir julle spesiale betekenis het kan gebruik om julle troukoek te versier, wat dit nog meer uniek maak.
WEDDING STAR
Julle kan hierdie oulike figuurtjies by Wedding Star bestel. Julle kan die paartjie se hulle haarkleur of self velkleur verander (afhangende van hoe lank jy nou in daardie sonbed gelê het). Hierdie cake toppers het baie karakter en is baie ver voor die normale staan-langs-mekaar-figure wat in die verlede gebruik is om koeke mee te versier. Kies een wat julle speelse persoonlikhede die beste komplementeer.
BUSY LIZZY CREATIONS
Elizabeth van Busy Lizzy Creations is omtrent aan die gang met haar dekor-items, geskenk-idees, trougeskenke, swartborde, want jy kan basies enigiets onder die son wat mooi is daar kry! Sy maak ook die mooiste staal- en hout-cake toppers.
Ons is veral mal oor hierdie staalwoorde. Dit is totaal iets anders as waaraan ons gewoond is. Dan kan julle ook ’n bruid en bruidegom, wat uit hout gekerf is en soos die die bruid en bruidegom lyk, bestel. Hulle maak ook die mooiste pikkewyn-egpaar.
SELFDOEN-VLAGGIES
As jy kreatief is en baie graag iets wil maak om jou troukoek te versier, is vlaggies ’n goeie idee wat tans nogal baie gewild is. Ek wys jou hoe. Dit is eintlik baie maklik. Jy kan lap of karton gebruik. Ek het in hierdie voorbeeld karton gebruik, wat ek by my plaaslike kunswinkel gekry het. Die karton is harder en hou sy driehoekvorm baie mooi, waar jou lap nou weer sag is en ’n ware gevoel aan die vlaggies gee.
BENODIGHEDE
– Skêr
– 2 Sosatiestokkies
– Die karton of lap wat jy wil gebruik
– Wit papier om die patroon mee te maak
– ’n Toutjie/lint
– Gommasjien
METODE
Sny vir jou ’n driehoek uit wit papier uit, wat as jou patroon of vorm gaan dien. Teken hierdie driehoek oor op jou papier / lap en sny dit uit.
Vat ’n stukkie lint (so lank soos wat jy dit verkies) en bind dit aan die sosatie stokkies vas. Gom jou driehoekies daaraan vas en jou vlaggies is klaar.
Julle kan hierdie driehoekies minder maak, groter maak of selfs woorde op skryf.
Dit maak nie saak wat julle kies om die bokant van julle troukoek te versier nie, solank dit net vir julle iets spesiaal beteken. Jy kan dit bestel of sommer self maak. Die opsies is eindeloos…