Daar is baie vrae om te vra wanneer jy jou troue beplan. An-Sophie Lourens soek antwoorde op dit wat na die groot vraag volg.

Na die groot vraag gevra is en die groot opwinding ʼn bietjie bedaar het, begin die bruid se kop warrel met allerhande vrae. Dis nie net wanneer die datum is of hoe die trourok gaan lyk nie.

As jy in hierdie bruid bootjie is, hoef jy glad nie alleen te voel nie. Ons het gaan uitvind wat die vrae op alle bruide se lippe is. Miskien is dit dieselfde vrae waarmee jy worstel of selfs nooit eers al aan gedink het nie. Julia Kadish, wat self ook troues reël, het raad gegee.

Hier is vyf mees algemene vrae waaroor toekomstige bruide wonder:

1. Wanneer moet jy begin beplan?

Party mense sê so gou as moontlik, want jy wil nie vasbrand of uitbrand kort voor die troudag nie. Ander sê weer, nee wat, net nie te gou nie. Party mense meen jy kan nog vinnig van plan verander of iets sien waarvan jy meer hou as waarop jy voorheen besluit het.

Raad: Dis nooit tevroeg om idees te begin kry nie. ʼn Goeie tydlyn is 10 tot 12 maande voor die tyd. Nie langer as 18 maande nie.

2. Waar moet ʼn mens begin?

Raad: Besluit watter tyd van die jaar julle wil trou en soek dan venues waarvan julle hou. Die venue waarvan julle die heel meeste hou kan bepaal hoe julle gastelys gaan lyk, as gevolg van beperkte spasie of die kostes. Onthou ook dat jou venue op die einde van die dag jou datum bepaal. Venues raak baie vinnig vol en jy gaan tien teen een jou datum rondom hulle beskikbaarheid moet beplan.

3. Wanneer moet jy jou rok begin maak of koop?

Jy kort eintlik nog twee maande om daardie ekstra kilos af te skud of jy is bang jou rok is nie betyds klaar nie. Wanneer moet jy dan nou jou rok begin uitsorteer?

Raad: Gee jouself of die ontwerper genoeg tyd. As jy ʼn rok laat maak, praat met die ontwerper, hoor hoeveel tyd hulle gaan nodig hê. Noem dit as jy van plan is om ʼn paar broodrolletjies om jou heupe te verloor. Vra dan ook hoeveel tyd hulle gaan nodig het vir verstellings. As jy jou rok koop en jy is heeltemal tevrede daarmee en met jou gewig, hou dit dan so. As jy wil verstellings maak, weet hoe lank dit gaan vat en beplan daar rondom.

4. Wanneer moet die uitnodigings gestuur word.

Raad: Sodra jy jou datum en venue het, kan jy begin werk maak daarvan. Jy nooi mense wat jy graag by jou troue wil hê. Maak dus dit vir hulle ook meer gerieflik in terme van beplanning, veral as daar gaste is wat oorsee bly of ver moet ry. Stuur dalk “Save the Date” kaartjies ses maande voor die troudag uit om te verseker dat mense hulle reëlings kan tref. Formele uitnodigings moet dan nie minder as drie maande voor die tyd uitgestuur word nie.

5. Hoe lank is die eintlike troudag.

Baie bruide dink die troue begin vandat die seremonie. Die realiteit is, dit is maklik ʼn 15 tot 16 uur, selfs nog langer, vol, bedrywige dag. Afhangende van die hoeveelheid strooimeisies gaan julle rondom nege uur begin reg maak en die kans is goed dat jy eers omtrent twee uur die volgende oggend gaan slaap.

Raad: Eet ontbyt en moenie te veel te vroeg sjampanje drink nie!

Dalk het jy al hierdie vrae al sommer self beantwoord of dalk het jy nou die antwoord op vrae waaroor jy gewonder het. Die belangrikste is om rustig te raak, jou gedagtes te orden en te weet wanneer jy iets moet doen. As jy vasbrand, vra vir hulp of raad. Aan die eindig van die dag, geniet net elke bietjie van hierdie avontuur!

Foto: Freepik

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA