Wanneer baba saam gaan wittebrood hou
In baie gevalle het die bruid of die bruidegom reeds kinders wanneer hulle besluit om te trou en moet klein kindertjies soms saamgeneem word op wittebrood…

ERWS-BANNER-20-96x14

WAT JY IN GEDAGTE MOET HOU:
Hanteer dinge anders – Om met ’n baba of kleuter te reis is anders as wanneer dit net die twee van julle sou wees en uitstappies is ook meer beperk. Julle kan steeds alles doen wat julle beplan het, maar vat dit stadiger en werk meer rustye in die kind te akkommodeer. As op die strand lê julle idee was, is dit belangrik om voorsorg te tref sodat die kind nie so baie aan die son blootgestel word nie.

Kies die regte bestemming – Dink mooi voordat julle op die bestemming en verblyf besluit. Party lande is gesinsvriendelik, terwyl ander nie geskik sal wees vir klein mensies nie. Hotelle is byvoorbeeld ideaal vir babas en paartjies wat nie wil kosmaak nie, maar selfsorgeenhede sal beter werk vir kleuters en peuters. Jy hoef nie noodwendig ’n gesinsoord te kies nie, maar daar sal meer geleentheid wees vir romantiese alleentyd as julle ’n bestemming kies met betroubare kindersorg in die aande as julle wil gaan uiteet of vir wanneer julle bietjie by die spa wil gaan ontspan.

Onthou alles wat jy sal nodig hê – kinders het baie spesifieke behoeftes en dit is belangrik om seker te maak dat jy alles inpak wat julle gaan nodig hê in die tyd wat julle weg is. Dit is beter om produkte saam te vat waaraan jou kind gewoond is, eerder as om te eksperimenteer met ander produkte in ’n vreemde land.

Veiligheid eerste – Net omdat julle wittebrood hou, beteken dit nie dat veiligheid by die venster moet uitvlieg nie. Maak seker dat jou oord en diensverskaffers voorsiening maak vir veiligheidsmeganismes soos karstoeltjies, eetstoeltjies en selfs ’n kot sodat jou kind altyd veilig is. Baie lugrederye laat toe dat jy karstoeltjies saam met jou bagasie inweeg en die meeste hotelle het kotte en eetstoeltjies beskikbaar, maar vind uit sodat jy weet wat om saam te vat.

Foto: Intimate Weddings

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA