troudag
Jou troudag is die oomblik waarop jy al so lank wag… Maar moenie kop verloor nie. Hier is ’n paar dinge wat jy liefs nie op die dag moet probeer nie…

East_Rand_Wedding_Show_ad——————————————-

Jou troudag is een van die belangrikste dae in jou lewe, maar dit beteken nie jy moet toelaat dat die stres van die oomblik jou dinge laat doen wat jy nie gewoonlik sou doen nie. Die maklikste manier om deur die dag te kom, is om jouself te wees en alles aan te pak soos wat jy normaalweg sou.

HIER IS DINGE WAT JY NIE OP JOU TROUDAG MOET DOEN NIE:

* Moenie ’n beheervraat wees nie – jou werk is om mooi te lyk en jouself te geniet. Gee beheer oor aan iemand wat jy vertrou en ontspan.

* Moenie rondry nie – jy het ’n hele gevolg om jou te help en dit is nie ’n goeie idee om self agter die stuurwiel in te spring op jou troudag nie. As jy êrens moet wees, laat iemand jou daarheen neem en as daar iets opgelaai moet word, stuur iemand wat jy kan vertrou.

* Moenie nuwe skoene aantrek nie – as jou voete seer is, gaan dit jou hele dag bederf. Trap jou skoene voor die tyd in en maak seker dat dit gemaklik pas sodat jy jou dag ten volle kan geniet.

* Moenie ander skakerings grimering dra as waaraan jy gewoond is nie – jou proef is gedoen en jy weet waarvan jy hou. Moenie iets dra wat buite jou gemaksone is nie, want jy gaan op baie foto’s wees en jy wil nie spyt wees oor die herinneringe wat jy oorhou van jou groot dag nie.

* Moenie afwyk van die skedule nie – jou bruidegom is ook senuweeagtig en jou gaste het moeite gedoen om betyds te wees. Dit is slegte maniere om mense te laat wag en as jy moet jaag, gaan spesiale oomblikke by jou verby en vergeet jy belangrike goed wat jy moes doen. Wees daarom betyds.

* Moenie ’n ete oorslaan nie – die laaste ding wat jy wil hê is om flou te val omdat jou bloedsuiker te laag is. Maak seker dat jy ontbyt en ’n ligte middagete eet voordat jy met die paadjie af stap.

* Moenie gaan vir ’n massering op die dag van die troue nie – ’n massering laat die gifstowwe in jou spiere vry sodat dit uit jou liggaam gewerk kan word. Dit laat jou gewoonlik eers sleg voel voordat jy goed voel. Doen dit eerder so twee dae voor die troue.

* Moenie oefeninge doen op die dag nie – Murphy sorg dalk net dat jy met ’n verstuite enkel met die paadjie moet afhop. Jy kan na die troue weer oefen.

* Moenie te veel alkoholiese drankies drink nie – jy wil hê jou gaste moet jou troue onthou omdat dit mooi was en nie omdat jy die skoktoespraak van die dekade gelewer het nie.

Geniet die dag, en wees net jouself. Lekker trou!

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA