Wat om te onthou na die troue
Die troue is verby en julle het nou net wittebrood op die brein en is opgewonde om jul lewe saam te begin. Hier is ’n paar dinge waarvan julle nie moet vergeet nie.

Noudat die mooiste paar uur in julle lewens verby is, is dit maklik om van sekere dinge te vergeet omdat julle fokus nou nie meer hoofsaaklik troubeplanning is nie. Hier is ’n paar dinge waarvan paartjies soms na die tyd vergeet.

WAT VAN DIE BLOMME?
Jy het dier betaal vir jou blomme en as jy nie iets spesifiek beplan het daarvoor nie, gee dit vir iemand wat dit sal waardeer – dalk vir ’n tannie by die ouetehuis, vir die kerk, gaan sit dit op ’n geliefde se graf of gee dit vir iemand wat baie gehelp het met die troue om dankie te sê. So kry jy darem die meeste waarde vir jou geld.

GEBRUIK WEER JOU TAFELDEKOR
Ditjies en datjies wat oral op die tafel rondstaan, het jou heel moontlik ’n hele paar rand uit die sak gejaag, so maak seker dat iemand verantwoordelik na die verrigtinge oulike ornamente, linne ensovoorts bymekaar maak sodat jy dit weer by die huis kan gebruik. Jou trousmaak, sal moontlik ook inskakel by jou huisdekor en elke keer wanneer jy iets van jou troue gebruik, sal jy herinner word aan julle mooiste dag.

MAAK SEKER JULLE HET AL JULLE GESKENKE
Alhoewel almal deesdae vir geld vra, is daar tog mense wat geskenke bring, so maak seker dat julle alles het wanneer julle begin op pak en moenie vergeet om dankiekaartjies uit te stuur na die tyd nie.

LEES ALMAL SE BOODSKAPPE
Daar is deesdae baie vorme van gasteboeke ensovoorts, en gaste kan nogal kreatief raak met hulle boodskappe. Vat julle gasteboek saam kamer toe sodat julle almal se wense kan lees wanneer julle die volgende oggend wakker word – dit sal die towerkrag van die mooi dag bietjie langer laat aanhou.

DRINK WATER VOOR JY GAAN SLAAP
Julle troudag was lank en julle het tien teen een nogal ’n paar glasies sjampanje agter die rug ook. Water sal help dat jy nie dehidreer of die volgende oggend sleg voel nie. Vra jou nuwe lewensmaat om jou te herinner om dit te doen.

MAAK SEKER JY HET JOU PASPOORT
Jy kan nêrens heen gaan daarsonder nie. So dit is belangrik. Gewoonlik reis die bruid met haar nooiensvan en doen ook die besprekings met daardie van en verander dan alles wanneer sy terugkom.

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA