wat pasgetroudes van beleggings moet weet
Wanneer julle pasgetroudes is, kry spaar en belê ʼn nuwe betekenis. Daar is nou ʼn groter prentjie om voor te werk. Die regte keuses vir beleggings is dus belangrik. Hoe pak jy die saak aan?

Almal van ons is al van kleintyd af geleer dit belangrik is om geld eenkant toe te sit. Hoe om dit te doen dat jy die beste voordele daaruit kry, kan partykeer ʼn baie verwarrende besluit wees. Ons het met Annemie Nieman, ʼn gesertifiseerde finansiële beplanner, vir PSG Wealth and Financial Planning gepraat vir raad oor die saak.

WAT IS DIE VERSKIL TUSSEN BELÊ EN SPAAR?
“Alhoewel mense gereeld na ‘belê’ en ‘spaar’ as een en dieselfde ding verwys, is daar wel ʼn verskil en sal jong, getroude paartjies daarby baat om die verskil te verstaan.

Wanneer jy spaar is die fokus slegs om geld bymekaar te maak sonder om die kapitaalwaarde daarvan te verloor. Sekuriteit, eerder as groot opbrengste, is dus ʼn groot oorweging. Spaargeld is tipies bedoel vir noodgevalle of waar daar ʼn korttermyn beleggingsdoel is (soos die deposito wat jy oor 6 maande op die aankoop van ʼn huis wil neersit).

Wanneer jy belê, is die fokus egter om die geld wat jy wel bymekaar maak, oor die medium- of langtermyn met meer as inflasie te laat groei. Jy sal bereid wees om meer risiko te aanvaar sodat die opbrengs op jou belegging ook meer kan wees. Verder sal jy tipies nie gereeld onttrekkings uit jou belegging maak nie; jy sal dit eerder daar los om te groei, en sal ook opbrengste soos rente en dividende herbelê om die voordeel van groei-op-groei te kry. Beleggings sal tipies gemaak word om kinders se studies te betaal of om eendag in jou aftreebehoeftes te voorsien.”

HET JY NOODWENDIG GROOT KAPITAAL NODIG OM TE KAN BEGIN BELÊ?
“Glad nie. Die meeste beleggingsplatvorms laat beleggers toe om herhaalde bydraes van so min as R 500 per maand te maak. Sommige versekeraars laat selfs kleiner bydraes toe, maar hier moet daar gewaak word dat die polis– en administrasiefooie nie ʼn groot deel van die bydraes ‘opvreet’ nie. As jy bv. R 300 bydra, maar ʼn polisfooi van R30 betaal, verloor jy onmiddellik 10% van jou geld net aan fooie.”

IS DIT RAADSAAM OM AS PAARTJIE OF EERDER AS INDIVIDUE TE BELÊ?
“Dit is die beste om julle beplanning saam te doen, maar beleggings in elkeen se naam afsonderlik te doen. Redes hiervoor sluit in dat elke party ʼn mate van onafhanklikheid behou, gebruik kan maak van sy/haar eie belastingkortings en –vrystellings om belasting oor die algemeen te verminder en nie probleme gaan ervaar wanneer toegang tot die belegging benodig word onder omstandighede waar een van die partye nie toestemming kan gee nie (byvoorbeeld ʼn onttrekking uit ʼn belegging waar beide se toestemming vereis word, maar een party in die hospitaal lê).”

WAAROP MOET ’N PAARTJIE HULLE KEUSE VAN BELEGGING BERUS?
“Die doel van die belegging (moet dit beskikbaar wees in geval van ʼn noodgeval of is dit bedoel om eendag in my aftreebehoeftes te voorsien);

Die beleggingstermyn (wanneer voorsien jy dat jy die fondse gaan benodig?)

Buigsaamheid van die produk en die mate waartoe die produk jou toelaat om jou belegging te wysig in lyn met veranderende omstandighede (vermy produkte waar jy gepenaliseer gaan word indien jy bv. bydraes stop, verminder of die beleggingstermyn verkort).

Die koste van die beleggingsproduk (hoe hoër die koste, hoe meer van jou bydrae of jou opbrengs word verminder);

Belasting (verskillende beleggings het verskillende ‘belastingreëls’ wat bepaal tot watter mate die opbrengs op die belegging deur belasting verminder word. Kry ʼn belegging wat belastingseffektief is).”

HOE GAAN JY TE WERK OM DIE BESTE BELEGGINGSADVISEUR TE KIES?
“Alhoewel nie alle beleggingsadviseurs lede van die Financial Planning Institute of Southern Africa (FPI) hoef te wees nie, is die FPI ʼn professionele liggaam wat ten doel het om hul lede se vlak van professionaliteit te verhoog en om advies van die hoogste standaard aan beleggers te verseker. Kyk veral uit vir FPI lede wat ʼn Certified Financial Planner® is. Hulle word ook uitgeken deur die teken CFP®.”

WAT IS, IN JOU OPINIE, DIE VYF BESTE FINANSIËLE BELEGGINGS WAT ʼn JONG GETROUDE PAARTJIE KAN MAAK EN WAAROM?
* Belê in ongeskiktheidsdekking; dit sal verseker dat jy steeds vir die toekoms sal kan belê in ʼn situasie waar jy nie meer ʼn inkomste kan verdien om in die toekoms te belê nie;
* ʼn Noodfonds wat voldoende is om 1 – 3 maande se salaris te dek. Dit kan byvoorbeeld ʼn spaarplan wees by jou bank. Die fondse moet ‘veilig’ wees en ook toeganklik op kort kennisgewing.
* ʼn ‘Nuwe generasie’ Uittree Annuïteit waar jy nie gepenaliseer word as jy bydraes verminder, stop of die belegging skuif nie. Bydraes word voor-belasting gemaak, bydraes is, tot ʼn sekere mate, belastingaftrekbaar en dus word jou belastingaanspreeklikheid verminder, opbrengste op die belegging is heeltemal belastingvry en die uittree annuïteit is beskerm teen skuldeisers. Die belegging is onder normale omstandighede eers beskikbaar op ouderdom 55 en daarom is hierdie belegging geskik om vir aftrede voorsiening te maak.

Indien bogenoemde beleggings gemaak is en daar nog ʼn paar rand oor is om te belê, kan daar gekyk word na.
* ʼn Belastingvrye spaarplan waar jy tot R30 000 per jaar en R500 000 oor jou leeftyd kan bydra. Opbrengste op die belegging is ook belastingvry en die fondse is binne ʼn redelike kort tyd beskikbaar. Daar is ook geen minimum beleggingstermyn nie.
ʼn Effektetrust belegging waar aandeleblootstelling redelik hoog is, om maksimum potensiële opbrengste en dus welvaartskepping oor die langtermyn te verseker.

Artikel: Yolande van Deventer

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA