Wees sonbruin op jou troudag
Om mooi bruin te wees op jou troudag kan nogal ’n uitdaging wees, veral as jy nie tyd het om in die son te lê nie en jou verbruiningsproei jou oranje laat lyk. Alexa Swart gesels oor die voor- en nadele van kunsmatige verbruining.

Ons almal ken so ’n person. Kom ons noem haar maar Susaartjiep. En op haar troudag het Susaartjie te veel verbruining gebruik en daar blink sy soos ’n oorryp appelkoos op al haar troufoto’s.

Baie bruide verkies ’n glansende sonbruinvoorkoms op hulle troudag, want dit lyk tog so mooi en gesond saam met die wit trourok. Maar hulle gesels nie met ’n skoonheidsdeskundige oor watter voor- en nadele verskillende verbruiningsmetodes inhou nie. Hulle gebruik sommer die eerste en beste een wat hulle in die hande kan kry, en die gevolg is baie stres en trane. Dit is daarom belangrik om jou opsies behoorlik te oorweeg.

Daar is hoofsaaklik twee algemene kunsmatige verbruiningsmetodes naamlik; sonbed (of tan can) en verbruiningsproei en hier volg die voordele en nadele van elk.

SONBED-VERBRUINING

Nadele:
– Die oormatige gebruik van sonbrandtoestelle kan jou vel beskadig en sonbrand tot gevolg hê. Dit kan ook lei tot velveroudering en ’n toename van plooie. So berig die Centers for Disease Control and Prevention op hul webtuiste.
– Volgens BEELD sê die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid (FDA) dat diegene wat aan ultraviolet-bestraling blootgestel is tydens sonbed-verbruining se risiko vir melanoom-velkanker, met 75% styg. ’n Sonroom is dus steeds nodig wanneer jy hierdie opsie gebruik.
Voordele:
+ Sonbed-verbruining gebeur egter in ’n beheerde omgewing waarin die aantal ultraviolet strale gereguleer kan word, wat nie die geval is met direkte sonlig nie. Sonbeddens gebruik ultraviolet strale om die vel te verbruin. Daar is drie tipe ultraviolet strale naamlik UVA, UVB en UVC. Die gevaarlikste ultravioletlig, UVC, word wel deur die sonbed uitgefiltreer.
+ Jou ooglede is te dun om die ultraviolet lig te stop en daarom moet alle kliënte oogbeskermers dra in die sonbed. Indien jy gemaklik voel kan jy poedelnaak in die kassie lê (sodat jy nie strepe brand nie), maar meeste vroue verkies egter om hul swemklere of onderklere te dra sodat hul privaatdele nie aan die UV-strale blootgestel word nie.
+ Volgens Tanz Tanning sal jou sonbruinvel vir twee tot vier weke hou en twee sonbedsessies per week sal verseker dat jy vir jou hele wittebrood daardie verleidelike bronsvoorkoms behou.

VERBRUININGSPROEI
Voordele:
+ Tydens verbruiningsproei word ’n roomverbruiner deur middel van ’n airbrush-masjien op die vel gesproei. Hierdie proses is UV-vry omdat die verbruiningsroom ’n chemise reaksie met die amino sure in die boonste laag van die vel veroorsaak wat die vel dadelik verbruin.
+ Al die komponente van verbruiningsproei is al vir dekades in kosmetiese produke gebruik en het selde allergiese reaksies tot gevolg. ’n Veltoets word gedoen om te bepaal hoe die kliënt op die komponente van die verbruiningsroom reageer.

Nadele:
– Hierdie verbuiningsmetode hou nie lank nie – slegs vier tot tien dae, afhangende van hoe jou vel afskilfer. Dalk het jy gedink jy gaan nog soos ’n brons-godin op die strand lê met jou wittebrood, maar moet nie in die strik trap nie.
– Met hierdie bruin glansende vel kan jy egter ook nie in chloorwater swem nie, omdat dit jou verbruining sal verbleik. Die see se rowwe golwe en seesand sal ook jou songodin voorkoms afskuur en daarom word hierdie verbuiningsmetode aanbeveel vir bruide wat net ’n tydellike brons voorkoms wil hê.
– Soms loop dinge skeef (veral met tuis-verbruiningsroom) en kan die kleur heeltemal verkeerd uitkom. Dit is daarom belangrik om dit professioneel te laat aanwend.

So bruide, wees slim en gaan praat met jou skoonheidsterapeut oor verbruiningsmetodes en moet dit asseblief tog nie self doen nie. Appelkoos is niemand se kleur nie.

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA