Neil Somers se CD, Hierdie Hande, is ’n mengsel tussen roerende hartsmusiek en opgewekte saamsing-deuntjies. Een gelukkige leser kan hierdie CD wen. Lees verder om uit te vind hoe.
Neil Somers, met sy strelende fluweelstem, het beslis geen bekendstelling nodig in musiekkringe nie. Oor die afgelope paar jaar is van sy werk nie net met TEMPO-benoemings vereer nie, maar treffers soos Anderkant Atlantis en Sinnelose Lente is ook vriendelik deur radiostasies en die publiek ontvang.
Neil is ʼn gebore musikant en is vandat hy kan onthou versot op sing. “Musiek is al deel van my lewe vandat ek kon praat en was nog altyd in my bloed. My musikaliteit kom van my pa se kant af. Hy is passievol oor musiek en speel kitaar, baskitaar en was ook al lid van verskeie orkeste. My pa het my ook die basiese beginsels geleer van kitaarspeel, waarna ek dit self verder op gehoor bemeester het. Vandag speel ek ook akoestiese kitaar en die bekfluitjie.”
Hoendervleismooi is die perfekte woord om Neil Somers se splinternuwe album, Hierdie Hande, op te som. Sy kenmerkerkende diep stem, is die perfekte pasmaat vir elke sielvolle liriek en die eindresultaat sal luisteraars van die eerste noot af in vervoering hê.
Die eerste enkelsnit, Eendag op ’n Reëndag, het van die begin af die trefferleer geklim. Net soos die res van die album, is hierdie liedjie ’n mengsel van roerende lirieke en aangrypende melodieë, wat nie net in jou kop kom vassteek nie, maar jou ook onwillekeurig sal laat saam neurie. Anders as sy eerste album, Anderkant Atlantis, is Hierdie Hande minder ernstig, maar die musiek kry dit steeds reg om diep binne in jou hart te kom nesskop. “Ek dink ons het dit reggekry om ’n lekker balans tussen diep rustige en lekker kuiermusiek te skep. Maar elke liedjie vertel tog ’n storie en dis wat vir my belangrik is – dat mense na die lirieke moet luister en dit hulle harte moet aanraak, hetsy op ’n gelukkige of hartseer manier. Solank dit net met die hart praat en emosie ontlok,” vertel Neil.
Die CD bestaan uit dertien snitte, waarvan meer as ses liedjies uit Neil se eie pen kom. “Ek het letterlik ’n aandeel in die skep van twaalf van die dertien liedjies gehad – party het ek self geskryf en ander net getoonset. Ek voel regtig goed oor elke liedjie, so ek kan nie een uitsonder in my hart nie, maar as ek gunstelinge moet kies, sou ek Skipper en Die Kaap se Wyn kies. Die eerste een is deur my boetie geskryf en laasgenoemde het my pa, wat self ’n musikant is, help skryf wat dit baie spesiaal maak.”
Hierdie Hande is die perfekte kombinasie tussen roerende hartsmusiek en lighartige saamsingmusiek, met titels soos Somergirl, Winterhart, Hartland, Pêrels en Saffier en Middernagland wat jou nuuskierig deur die speellys sal laat kuier. Jy slaan my asem weg is besonders treffend en behoort ’n groot gunsteling te wees onder paartjies wat eersdaags gaan trou en ’n betekenisvolle liedjie soek om die dansbaan mee te open.
WEN!
Een gelukkige leser staan ’n kans om Neil Somers se CD, Hierdie Hande, te wen. Al wat jy hoef te doen om in aanmerking te kom, is om die inskrywing te LIKE en SHARE en ook Neil se Facebook-blad te gaan LIKE.