Pieter Koen se CD, Wat Die Hart Van Vol Is, is al sedert 2014 gewild en hou aan om die trefferleer te klim. Een gelukkige leser kan hierdie CD wen. Lees verder om uit te vind hoe.
Bekende en bekroonde televisie-aanbieder (Jukebox) en sanger, Pieter Koen, se agtste album Wat Die Hart Van Vol Is, het lekker danssnitte soos Tydmasjien, Doenit Net, Die Een Ding Wat Ek Doen en Waar Lê Jy Vanaand, maar ’n dieper, gevoelvolle aanslag word in ander snitte aangewend. Pieter het met musiek begin en televisie en radio het later gevolg. Volgens hom is die toekoms van Afrikaanse musiek so sterk soos die toekoms van die Afrikaanse taal.
Hierdie CD is ook in 2015 vir ’n SAMA genomineer en doen steeds tot op datum baie goed.
Pieter se familie is gemaklik in die musiekwêreld met oupa wat die konsertina, kitaar, bekfluitjie en kitaar speel tot ma Elize, wat as Elize Cilliers in die sewentigs en tagtigs saam met bekendes soos Sias Reynecke, Lance James en Al Debbo getoer het. “Hy het op die verhoog grootgeword,” vertel sy ma. Pieter het in die kore van Laerskool Standerton en Hoërskool Standerton gesing en was ’n lid van die Drakensbergse Seunskoor en Hoëveldse Kinderkoor.
Pieter en sy vrou, Lotie, het drie kinders, Jovan, Jayden en Luné. Hy werk al sedert 1997 in die vermaaklikheidsbedryf, maar na die destydse Skud Jou Biscuit was sy naam op almal se lippe. “Baie het gebeur sedert ek my eerste cd vrygestel het. Hit Factory Record het my genader en saam is die volgende musikale hoofstuk ingelei.”
Wat Die Hart Van Vol Is verskil nogal baie van sy oorspronklike musiek omdat dit meer hartsmusiek insluit. Murray Lubbe het die album vervaardig en musikante soos Floors Oosthuizen, Danny Smoke, Denny Lalouette, Vinnie Henrico, Ricus Nel en Matthys Maree het aan die produksie gewerk.
Pieter se musiek is beslis ideaal om jou onthaal se feestelikhede aan die gang te kry, jou gaste te vermaak en selfs om paartjies verlief in mekaar se oë te laat staar. As jy ’n aanhanger is van Pieter en nog nie hierdie CD het, sal dit jou beslis nie teleurstel nie. Dis ’n aanwins vir enige musiekliefhebber se CD-versameling.
WEN!
Een gelukkige leser staan ’n kans om Pieter Koen se CD, Wat Die Hart Van Vol Is, te wen. Al wat jy hoef te doen om in aanmerking te kom, is om die inskrywing te LIKE en SHARE en ook Pieter se Facebook-blad te gaan LIKE.
Foto: Co Productions