Touch of Class se nuwe CD, 100 Duisend Perde, is pas vrygestel en twee gelukkige lesers kan elkeen ’n dubbel-CD wen. Lees verder om uit te vind hoe.
Die oorspronklike groep, Touch of Class, wat uit Deon van der Merwe en Ronell Erasmus bestaan het, is reeds in 1985 begin toe hulle nog as agtergrondsangers vir kunstenaars soos Anneli van Rooyen en André Schwartz opgetree het, maar oor die jare het die groep hulle eie stem gevind en ’n huishoudelike naam geword. Alhoewel Ronell die groep so ’n paar jaar gelede verlaat het om aan haar solo-loopbaan en geestelike musiek te werk, het die nuwe sanger Ruhan du Toit dit reggekry om sy plek vol te staan en sy eie vars benadering tot die groep te voeg.
Hulle nuwe dubbel-album, 100 Duisend Perde, is pas bekend gestel en die eerste enkelsnit Ek steek my hand op wat deur Arri Opperman geskryf is, is goed ontvang deur radiostasies en luisteraars. Alishia van Deventer van Starburst Promotions, beskryf die CD as die perfekte trou-album omdat dit so ’n mooi verskeidenheid gepaste musiek bevat. CD 1 bevat 19 oorspronklike liedjies wat as diep en betekenisvol beskryf kan word en Ruhan sing elkeen uit sy hart uit. Daar is ook ’n paar ligter dansnommertjies tussen-in. CD 2 is meestal nuutskeppings van bestaande gunstelinge soos Sweet Caroline en Beautiful Noise.
Die titelsnit 100 Duisend Perde, is ’n patriotiese liedjie wat deur Michael de Lange geskryf is en beslis elke Suid-Afrikaanse hart sal aanraak. “Ons is trots op ons erfenis, taal, lewensfilosofie en waardes en dit is die hoofboodskap van die album,” vertel hulle.
WEN!
Twee gelukkige lesers staan ’n kans om Touch of Class se nuwe dubbel-CD te wen. Al wat jy hoef te doen om in aanmerking te kom, is om die inskrywing te LIKE en SHARE op Facebook en ook die groep se Facebook-blad te gaan LIKE.