’n Wittebroodsakkie, met alles wat jy mag nodig kry, is noodsaaklik tydens julle eerste vakansie saam as man en vrou. Maar wat pak jy? Minette Badenhorst gee raad.
Daar is ’n paar items waarsonder jou wittebroodsakkie net nie kan wees nie. Hier is ʼn lysie van alles wat jy dalk mag nodig kry om mooi te lyk, ongeag waarheen julle gaan vir julle wittebrood.
Eerste op die lys, is natuurlik die wittebroodsakkie, waarin al die noodsaaklike items gepak moet word.
JOU WITTEBROODSAKKIE MOET DIE VOLGENDE ITEMS BEVAT VIR JOU VEL…
SONSKERM: ’n Goeie sonskerm is altyd noodsaaklik, daarom moet dit heel eerste op jou paklysie wees.
LIPBALM MET SPF EN LIPGLANS: Sagte lippe, is soenbare lippe. Moet daarom nie jou lipbalm en lipglans vergeet nie.
SONHOED: Meeste bruide vergeet om ’n sonhoed in te pak, maar dit is ’n baie belangrike item. Veral wanneer julle beplan om baie tyd in die son te spandeer.
NASONMIDDEL: Vir rooi, gebrande vel as julle net effens te lank in die son was, is dit belangrik om ’n nasonmiddel saam te neem. Die produkte waarvan jy hou en ken, is nie altyd so vrylik beskikbaar op tropiese eilande, soos hier by ons nie.
VELSORGPRODUKTE: Die skoonheidsprodukte wat jy daagliks gebruik, soos gesigroom en gesigwas is volgende op die lys. Die bestemming waarheen julle oppad is, kan meebring dat jy ook ’n paar ekstra produkte moet saamneem, soos ’n goeie bevogtiger as julle oppad is na ’n bestemming met koue weer en droë lug.
GRIMERING: Onderlaag, poeier, blosser, maskara, lipstiffie en reiskwassies is altyd ’n moet om op jou mooiste te lyk, wanneer julle in die aand na romantiese etes of vertonings toe gaan.
GESIGSPROEI: Dit sal jou gesig en grimering mooi vars hou, veral as julle na ’n warm bestemming gaan. Dit hidreer en vervris jou vel.
GESIGLAPPIES: Hierdie item is altyd handig, veral as julle buitemuurse aktiwiteite gaan doen. Dan is dit gerieflik om gesiglappies in jou wittebroodsakkie te hê, sodat jy deurgaans jou gesig kan afvee en vars voel.
JOU WITTEBROODSAKKIE MOET DIE VOLGENDE ITEMS VIR JOU HARE BEVAT…
STRAND- OF SOUTWATERSPROEI: Hierdie is ’n lekker produk om te hê, veral as julle by die see is. Dit gee jou mooi natuurlike krulle, wanneer jou hare droog word na jy in die see was.
KRULTANG OF STRAIGHTENER: ’n Vrou se hare speel ’n groot rol in die mooimaakproses. ’n Krultang of straightener is ’n vinnige, maklike manier om jou hare perfek te kry, om by die res van jou gloeiende voorkoms te pas.
HAARBYKOMSTIGHEDE: Pak jou borsel, knippies, rekkies en kopbande in jou wittebroodsakkie – dit is kleiner items waarvan ’n mens soms vergeet.
SJAMPOE EN OPKNAPPER: Sjampoe, opknapper en ander groot houers, hoef nie jou tas ekstra swaar te maak nie. Daar is deesdae baie reisgrootte opsies beskikbaar, wat genoeg produk bevat vir die hele wittebrood.
DROË SJAMPOE: Vir wanneer jy nie kans kry om hare te was nie, is droë sjanpoe ’n gerieflike alternatief.
WAT NOG IN JOU WITTEBROODSAKKIE MOET WEES…
NAELLAK: Kies ’n helder, prettige kleur as julle op ’n eilandwittebrood gaan, soos pienk, rooi of donker skakering.
PARFUUM: ’n Bruid wil altyd lekker ruik, en ’n reisgrootte parfuum is perfek om oral saam te neem.
NOODHULPTASSIE: Pak ’n klein noodhulpsakkie wat ten minste die volgende insluit: insekafweermiddel, pynpille, maagwerk en -kramppilletjies, anti-allergiepille, pleisters en oogdruppels.
ZIP LOCK-SAKKIES: Gebruik dit om goedjies bymekaar of droog te hou, of dit nou is vir ’n nat swembroek of om jou foon en kamera droog te hou.
HANDREINIGER: Dit is altyd ʼn goeie idee om handreiniger byderhand te hou. Daar is gerieflike, klein botteltjies wat maklik in jou handsak gegooi kan word, beskikbaar by winkels soos Dischem en Clicks.
Lees in die nuwe uitgawe van TROUKOORS watter tien produkte ons spesiaal uitgesoek het vir jou wittebroodsakkie en staan ’n kans om al hierdie produkte te wen! Die tydskrif is nou op die rak by uitgesoekte winkels soos Spar, Clicks, Checkers, Pick n Pay, PNA en OK.
Foto: Not On The High Street