Heinrich het Jacomie gevra om te trou op ʼn verassingspiekniek (op ʼn pragtige koppie). Hierdie spesiale geleentheid het gelei tot ʼn pragtige vintage troue met pastelkleure.
Jacomie het gedink die fotograwe op hulle verlowingsdag was sommer net toeriste wat daar rondgehang en foto’s geneem het. Die oomblik was so groot en spesiaal toe Heinrich die groot vraag gevra het, dat hulle almal (ja, die fotograwe ook) skoon in trane was! Verder was sy so gelukkig om ʼn bruidskou die dag na hulle verlowing te kon bywoon. Hier het sy sommer hope idees gekry vir hulle vintage troue.
VERTEL ONS MEER VAN DIE BEPLANNING VAN JULLE VINTAGE TROUE?
“Ek het na die bruidskou ʼn lêer gemaak en dit gesorteer volgens verskillende kategorieë. Die tydraam in die bruidstydskrifte het baie gehelp om net ʼn idee te kry waar om te begin en wat om eerste te doen. Ons het venues ge-e-pos vir kwotasies en ʼn paar gaan besoek en min of meer ʼn datum gekry wat ons en die families sal pas en toe die venue bespreek. Omdat ek graag wou hê al die gaste wat ons nooi moes die troue kon bywoon het ons dadelik save-the-dates begin maak en uitgestuur. Ek het ook sommer heel aan die begin ʼn begroting opgestel en soos ons kwotasies gekry het dit aangepas. Ek is mal oor vintage en daarom was al ons kleure sagte pastel kleure en daarby was baie neutrale kleure soos ivoor, sjampanje, koper en room ingesluit. Om al die pienk en sagte kleure te breek het ons ʼn tikke blou bygesit. Heinrich het besluit om sy pak ook vintage te hou en daarom ʼn bruinering kleur gekies. Die strooijonkers het kruisbande gedra om dit te komplementeer.”
JACOMIE SE RAAD:
- Begin vroegtydig trourok soek en pas baie verskillende style aan. (Dit was ʼn groot taak en ek het baie aangepas en ʼn paar ontwerpers gaan sien voor ek finaal seker was wat ek wou hê.)
- Vir bruide wat self troues reël is dit belangrik om vroegtydig te begin met goedjies wat gemaak moet word en ook realisties te wees oor wat jy self kan doen en waar jy hulp nodig het. (Ek het byvoorbeeld gedink om my gunsteling skoene self wit te verf – dit was ʼn groot fiasko!)
- In terme van begroting is dit belangrik om rond te soek en verskillende kwotasies te kry asook te gesels met mense wat onlangs getrou het, hulle sal jou kan raad gee oor wat om waar te koop.
- Kyk ook rond vir aanlyn plekke wat tweedehandse dekor en trou items verkoop.
DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering, spyseniering, dekor, verhuring en drankies: Fatherland Estate
Bloemis: Daisy Flowers
Skryfbehoeftes: Self
Troukoek: Self
Fotograaf: Piekfyn studio
Videograaf: Visual Corp Productions
Musiek en vermaak: AMA Promotions
Hare: Anel
Grimering: Wilma
Bruidegom se uitrusting: Hemp: Woolworths, Broek: Edgars, Onderbaaidjie: ouma Minnie (self)
Artikel: Yolande van Deventer