6 vrae vir wanneer jy trourok soek
Hier is ses belangrike vrae wat jy vir jou ontwerper of rokwinkeleienaar moet vra wanneer jy jou trourok koop. Dit sal jou baie konsternasie spaar as jy proaktief is.

Wanneer jy besig is met troubeplanning en trourok soek, kan jy soms so oorweldig wees dat jy vergeet om sekere vrae te vra – wat later probleme of onnodige spanning kan veroorsaak. Hier is ses vrae wat jy moet vra om seker te maak jy kry nie onwelkome verrassings nie.

1. WAT IS DIE BETAALTERME?
Dit help nie jy dink dat jy die rok kan betaal wanneer die ontwerper klaar is of wanneer dit by die winkel kom van oorsee af en jou ontwerper of rokwinkel se terme is dat jy vooraf geld moes betaal nie… want dan kan dit beteken dat jy dink jou rok is op skedule, maar dat dit byvoorbeeld nog glad nie bestel is nie en dus nie betyds sal wees vir julle mooiste dag nie. Maak seker jy weet wat die betaalterme is.

2. HOE LANK SAL DIT VAT OM ’N ROK IN TE VOER
As jy besluit om eerder ’n rok in te voer met die hulp van jou rokwinkel, is dit belangrik om te weet hoe lank dit gaan neem vir jou rok om ingevoer te word sodat jy seker kan wees dat jy jou finale keuse gou genoeg maak en daar nog tyd is vir verstellings ensovoorts voor jou mooiste dag.

3. WATTER ROK SAL MY FIGUUR PAS?
Elkeen van ons het ’n idee van ’n trourok in ons kop… maar dit is beslis nie te sê dat daai spesifieke ontwerp gaan werk vir jou spesifieke figuur nie. Vra jou ontwerper of rokwinkeleienaar se opinie. Hulle werk elke dag met figure en roktipes en weet wat sal werk en wat nie… jy wil asems wegslaan op jou troudag en nie skindertonge aanhits nie.

4. WATTER KLEUR ROK MOET EK DRA?
Dit is deesdae nie vreemd om in ’n ander kleur rok te trou as wit nie en soms werk wit net glad nie saam met ’n sekere velkleur of figuur nie. Vra jou ontwerper of rokwinkeleienaar se opinie, hou materiaalmonsters teen jou vel en vind uit wat die opsies is – wit is nie die alfa en omega van trourokke nie.

5. WATTER ONDERKLERE SAL WERK SAAM MET MY ROK?
Broekielyne wat deur jou rok druk of ’n broekie wat uitsteek by jou lae rug rok sal beslis konsternasie veroorsaak op jou troudag… en soms is ’n bra net heeltemal onvanpas. Maak seker dat jy skaflik en op jou beste lyk deur die regte onderklere aan te skaf vir die rok wat jy gaan dra.

6. WAT AS EK GEWIG OPTEL OF VERLOOR VOOR DIE TROUE?
Vra jou ontwerper of rokwinkeleienaar wat die verstelopsies is vir die rok wat jy gekies het. Sommige rokke kan maklik verstel en ander nie. Dit is ook makliker om ’n rok kleiner te maak as groter. Maak dus seker wat jou opsies is.

Foto: A Practical Wedding

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA