’n Troue was die resultaat van ’n liefde wat reeds op universiteit begin het. Gina van Staden het meer gaan uitvind oor die storie agter dié spesiale dag.
Henco en Nachelle Annandale se liefdesverhaal het tussen skoolboeke op universiteit begin. Nachelle vertel ons hoe studies na hul troue gelei het:
HOE HET JULLE ONTMOET?
“Ons was huismaats en goeie vriende op universiteit. Op my twintigste verjaardag in 2008 het Henco sy gevoelens aan my geopenbaar en ons was sedertien onafskeidbaar, wat uitendelik na ons troue gelei het.”
WATTER KARAKTEREIENSKAPPE BEWONDER JULLE DIE MEESTE VAN MEKAAR?
Hy: “Sy is ʼn harde werker wat voet by stuk hou sodra sy op iets besluit. Boonop maak sy nog lekker kos ook!”
Sy: “Hy het ʼn hart van goud en sal altyd tot my redding kom.”
HOE HET HY DIE JA-WOORD GEVRA?
“Ons vriende in die Kaap het getrou en ons het sommer terselfdetyd besluit dat ons die week voor hul troue in Kaapstad sou deurbring. Op 1 Mei 2013 het hy my bo-op Tafelberg gevra om met hom te trou. Ons was vir agt maande verloof voor ons troue.”
VERTEL ONS MEER VAN JULLE TROUE SE BEPLANNING?
“Ek het al vandat ek kan onthou begin beplan aan my troue. Ek wou nog altyd op my grootouers se plaas trou, maar ons het ʼn venue nader aan ons gekry wat ons dieselfde tipe gevoel gebied het. Henco is ʼn boffin met begrotings en het boek gehou van ons uitgawes. Ons het self betaal vir ons troue omdat ons niemand se insette wou gehad het nie.”
HET JY RAAD AAN TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Hou die troue eenvoudig, maar elegant – minder is soms meer. Bly kalm en geniet elke oomblik want die dag gaan so gou verby.”
WATTER TIPE ATMOSFEER WOU JULLE SKEP?
“ʼn Plaas gevoel, maar nogsteeds klassiek.”
HOE WAS JOU EMOSIES OP DIE GROOT DAG?
“Ek was baie opgewonde en glad nie op my senuwees nie. Die fotograaf het gelag en gesê dat sy nog nooit so ʼn rustige bruid teëgekom het nie.”
WAS DAAR ENIGE DIENSVERSKAFFERS WAT JOU TROUE EKSTRA SPESIAAL GEMAAK HET?
“Ja, my fotograaf. Ons was al van kleuterskool dae af maatjies en dit was vir my so spesiaal dat sy my groot dag met my kon deel.”
ONS HET GEHOU VAN:
* Die seëngebed by die troue wat die bruid se pa gebid het oor die paar.
* Die kousband wat deur die buid se ma gemaak is.
* Die bruid het vir haar bruidegom ʼn spesiale lied gesing.
Troue is ʼn baie spesiale gebeurtenis in twee mense se lewe, so neem nota uit Henco en Nachelle se trou-boekie en hou als eg aan julle eie smaak – al beteken dit dat julle ook self moet opdok vir die groot dag.
DIENSVERSKAFFERS
Venue: Oppie Plaas
Spyseniering, drankies, blomme, dekor: Self
Verhurings: Veronica’s
Fotograaf: Roux Wedding Photography
Trourok: Love and Lace Hartebeespoortdam
Hare: Mylene by Hair Fanatics
Bruidegom se pak: Edgars