troue
’n Troue met ’n romantiese atmosfeer is wat hierdie paartjie graag wou hê. Silwer en roosgoud was die perfekte pasmaats vir hierdie glansryke geleentheid.

ekspo-2

troue_1

Philip en Marlize van der Linde beskryf mekaar as hard en sag – albei hardwerkend en gedetermineerd, maar met ʼn sagte, liefdevolle kant wat oorvloei van geduld vir mekaar en hul medemens. Marlize vertel ons meer van hulle troue:

HOE HET JULLE ONTMOET?
“Philip is van die Kaap af Johannesburg toe oorgeplaas en maande later het ek by dieselfde maatskappy begin werk. Dit was liefde met die eerste oogopslag. Ons verhouding het suutjies begin, maar vandag geniet ons die tyd saam by die werk, sowel as die huis.”

WANNEER HET JULLE GEWEET DAT DAAR ʼN TROUE SOU WINK IN DIE TOEKOMS?
“Nadat ons vir vier maande uitgegaan het, het Philip vir ʼn maand lank oorsee gaan vakansie hou. Die afstand het ons oortuig dat ons nie sonder mekaar kon wees nie.”

HOE HET HY DIE JA-WOORD GEVRA?
“Philip het altyd gespeel-vra of ek met hom sal trou. My antwoord was: “Waar is my ring?”. Eendag in die tuin het hy weer vir my dié vraag gevra en toe ek vra waar my ring was het hy ʼn boksie uit sy broeksak gehaal. Ons was vir agt maande lank verloof voor ons troue.”

VERTEL ONS MEER VAN DIE TROUBEPLANNING?
“Ek het by die internet begin en gekyk waarvan ek hou en nie hou nie. Die styl van die venue en produkte van verskaffers het my gehelp om ʼn prentjie te vorm oor hoe ons troue sou lyk. Ek het dae lank by die blommemark inspiraise getap oor watter blomme ek wou gebruik.”

troue_2

HET JY ENIGE RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Begin so gou moontlik beplan. ʼn Kleiner troue laat jou toe om meer te kan spandeer op sommige dinge en is meer intiem. Vra raad wanneer jy besluiteloos is en geniet die vrugte van jou harde werk op die groot dag.”

WATTER DOEN-DIT-SELF-PROJEKTE HET JY AANGEPAK VIR JOU TROUE?
“Ek het al die dekor en blomme self gedoen. My ma het ure spandeer aan die handruikers en my pa moes ook help om sestig glasballetjies in verskillende hoogtes bo die hooftafel op te hang. Ek het vetplantjies gekweek as geskenkies vir die dames.”

Al het Philip die wittebroodkamer se sleutel so ampertjies verloor, het sy strooijonker hom darem gehelp om die dag te red. Die van der Lindes se troue was ʼn magiese dag, soos Marlize dit beskryf.

troue_3

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering, spyseniering en drankies: Oakfield Farm
Blomme en dekor: Bruid self
Skryfbehoeftes: Invitation Gallery – Henriette
Troukoek: Magnolia Bake & Cake
Fotograaf: Photography by Cezanne
Musiek: Soundworx – Anton
Trourok: Whimsical
Hare: Michelle Curran – Hair Innovations
Grimering: Art of Makeup – Lizanne
Bruidegom se pak: Eurosuit
Skoene: Rosie Toes
Strooimesie- en blommemeisierokke: Gelique

Artikel: Gina van Staden

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA