Liefde kan jou soms onverwags bekruip, selfs wanneer jy dink dat jy alleen ’n nuwe begin gaan aanpak. Matthew en Eloise Wright deel hulle storie.


Oos-Londen was nou nie juis Eloise se droombestemming om haar mediese internskapjare te doen nie, maar sy moes haar tasse pak en gaan. Op daardie stadium was sy bang vir wat die toekoms inhou, maar gelukkig het Cupid sommer gou vir Matthew oor haar pad gebring en die liefde het dadelik begin blom.

HOE HET JULLE GEWEET DIS WARE LIEFDE?
“Matthew het Kaap toe gegaan om by sy ouers te gaan kuier vir Paasfees. Dit was ons eerste keer so lank weg van mekaar af en het gesorg vir vreeslike hartsverlange. Ons het besef dat ons albei elke oomblik met mekaar wil deel en nooit weer weg van mekaar af wil wees nie.”

WAS DIE GROOT VRAAG KREATIEF EN SPESIAAL?
“Toe ons drie maande saam was, het Matthew vir my ’n hondjie gekoop wat ek al lank wou hê, Molly. Ons speel gereeld op die strand met haar en gooi vir haar tennisballe. Ons het, soos gewoonlik, op die strand gaan stap. Daar was ’n ongelooflike mooi sonsondergang en ek het natuurlik niks vermoed nie. Matthew het die bal vir Molly gegooi, sy het dit gaan haal en teruggebring en by my voete laat val. Op die bal was die groot vraag geskryf en toe ek omdraai was Matthew op sy knie met ’n ring in sy hand en liefde in sy oë.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN TEMA VAN DIE TROUE?
“Die kleur was ons albei se gunsteling-blou, Duck Egg Blue, en ons het dit met blospienk kombineer met ons blomelemente.”

MET WATTER ATMOSFEER WOU JULLE JUL LIEFDE VIER?
“Matthew lag elke keer as ek dit noem, maar ek wou graag die atmosfeer van gemaklike elegansie skep. ’n Mooi, maar lekker troue. Ons wou hê die gaste moes kan ontspan en hulself ten volle geniet, maar ook spesiaal voel. Ons het vir die canapes ’n Canapé-karnaval gedoen, met al ons kindertydgunstelinge. Verskeie stalletjies was beskikbaar met mini-oliebolle, koeksisters, Chip-’n-Dip, mini-hamburgers en -worsrolletjies. Ons het drie verskillende geure tuisgemaakte melkskommels ontwerp en dit was ’n groot treffer. ’n Fotohoekie het mense besig gehou en ons het ’n kunstenaar, Calan Watts, gehad om hulle met musiek te vermaak. Die nagereg was ons troukoek en ’n sjokolade-buffet van die Belgiese Chocolatier, Geldhof, en die mense kon self vir hulle verskillende boskies sjokolade opmaak en eet as nagereg of huistoe vat om later te geniet.”

ELOISE SE BEPLANNINGSWENKE VIR WANNEER JY TROUE BEPLAN:
“*’n Trougids-beplanner help jou om jou gedagtes bymekaar te kry en dit herinner jou van dinge wat jy dalk nie eers sou aan dink nie.
*Bespreek jou pastoor so gou as moontlik.
*Besluit mooi oor wie jou hare en grimering gaan doen en gaan vir proeflopies, al weet jy nog nie wat jy wil hê nie, dit sal jou help besluit of jy en die persoon goed oor die weg kom. Die persone gaan die meeste van jou oggend saam jou spandeer en dis belangrik dat hulle jou gemaklik laat voel.
*Skryf jou lysie uit en merk af soos jy aangaan om seker te maak alles is gedoen, dateer ook jou begroting op, soos wat goed aangekoop word. Klein onkostes hier en daar kan jou uitvang as jy eers later alles bymekaar gaan tel.
*As jy in ’n klein dorpie, soos ek, bly maak seker jy besluit vroeg op dekor-items en stoele wat gehuur moet word, sodat jy by jou plaaslike verskaffer kan huur voordat dit klaar bespreek is. As jy van ver af moet huur, is daar ekstra kostes verbonde aan vervoer van items en beïnvloed dit dus jou begroting.
*Trou-logo – ’n Manier om jou troue persoonlik te maak. My troetelnaam vir Matthew is Monkey en ek is dus sy Mrs Monkey. Hy het toe ons trou-logo gekies en die twee apies is aangebring op ons kombersgeskenkies, sjokoladeboksies, Chip-’n-Dip-boksies, troukoek en padkaart. Dit is belangrik vir jou aanstaande om deel te hê aan besluite van die dag en hom ook spesiaal te laat voel. Dis julle dag en beide julle persoonlikhede moet ten toon gestel word. Dit was defnintief een van die beste elemente van ons troudag, een wat ons vir altyd sal onthou.
*Omdat die onthaal buite was, het Matthew voorgestel ons gee kombersies as geskenkies indien dit koeler sou word die aand. Wie hou nou nie van ’n sagte kombersie nie? Ons het ons gaste se name aangebring op die kombersies en dit het dus as tafelplasings en –name gedien. Dit was ’n groot treffer en ons kry nou nog foto’s van ons gaste wat met hulle kombersies sit wat hulle herinner aan ons troudag.”

Liefde en vrolikheid was deel van hierdie paartjie se spesiale dag en kan ook deel wees van joune as jy net jouself is en goed beplan.

DIENSVERSKAFFERS:
Venue, koördinering, spyseniering, drankies, dekor en blomme: The C-Club
Handruikers: Sarah May Floral Art
Verhurings: Border Cater Hire
Skryfbehoeftes: Bruid
Troukoek: Taylor Made Treats
Fotograaf: Paula Adams Photography
Video: Big Day Symphony Wedding Films
Musiek: Nathan Rowe, 083 581 9714
Vermaak: Calan Watts
Trourok: Bridal Wardrobe
Hare: Lizzi’s, 083 263 2134
Grimering: Shana Dixon
Bruidegom se uitrusting: Woolworths
Vervoer: Chris Troukarre, 083 652 1099
Strooimeisierokke: Hoiden Bridesmaids
Vinielplakkers: Bosberg Signs

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA