Liefde bekruip jou soms wanneer jy dit die minste verwag en Suritha en Frikkie het beslis nie gedink dat hulle sou trou toe hulle ontmoet het nie. An-Sophie Lourens vertel hulle storie in vandag se artikel.
Die beste oomblikke, veral wanneer dit by liefde kom, is baie keer onbeplan. Die dag toe Suritha vir Frikkie ontmoet het tot die dag wat hy haar gevra het om te trou, was haar beste oomblikke, en sy het nooit gedink dat dit tot die kansel lei nie.
HOE HET JULLE LIEFDE BEGIN?
“Ons het mekaar in Bloemfontein ontmoet in ’n gastehuis, waar ons toevallig saam ontbyt geëet het.”
WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET GEMAAK DAT JULLE LIEF GERAAK HET VIR MEKAAR?
“Ons albei het ’n goeie sin vir humor, dus lag ons baie saam. Nog ’n baie belangrike eienskap in ons verhouding is eerlikheid en liefde.”
WANNEER HET JULLE BESEF DIS WARE LIEFDE?
“Ek het ’n jaar na ons ontmoeting, Pretoria toe verhuis en besef dat ek die res van my lewe saam met hom wil spandeer.”
HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Ons het saam vir die eerste keer gaan gholf speel, waarna hy my gevra het om te trou. Ek het ja gesê, en na sewe maande het ons getrou.”
VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN DIE TROUE EN WAT AGTER DIE SKERMS GEBEUR HET TOT EN MET DIE GROOTDAG?
“Ons het geweet ons wil in die winter trou en dat ’n kaggel dus ’n moet was. Monte de Dios, het alles en nog meer gebied en ons het geweet dit is waar ons liefde aan mekaar wil beloof. Ek het die meeste van die beplanning self behartig, die laaste week het my dogter handjie bygesit.”
WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN ATMOSFEER WAARMEE JULLE JUL LIEFDE GEVIER HET?
“Ons het ’n tema gekies wat elegant en formeel is, met die kleure soos wynrooi, ’n diep pers en goud, omdat dit die troulokaal gekomplementeer het. Die atmosfeer was ook elegant en deftig. Ons het hierdie elemente gebruik om ook nogsteeds ’n gesellige atmosfeer te skep.”
AS JY TERUGDINK AAN HIERDIE SPESIALE DAG, HOE SAL JY DIT BESKRYF? WAS DAAR IETS WAT VIR JOU UITGESTAAN HET?
“Dit was verseker die beste dag van my lewe! Emosie het oorgeloop van afwagting, liefde en spontane vreugde het die dag oorheers. Die opgewondenheid in ons kinders se oë was voorwaar ’n seën. Die kersie op die koek was toe ek die kerk inkom en al vyf ons kinders deel was daarvan.”
WATTER RAAD HET JY VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Geniet elke liewe oomblik vandat jy begin beplan, die troudag self is in ’n oogwink verby!”
Suritha kan verseker getuig dat ’n mens elke geleentheid in jou lewe moet aangryp. Koester elke liewe oomblik en vind vreugde in alles wat jy doen. So, het sy in die mooiste rooi, elgantste goud haar sprokiesverhaal van liefde geskryf.
DIENSVERSKAFFERS
Venue: Monte de Dios
Blomme: Amanda Blomme
Fotograaf: Roux Wedding Photography
Grimering: Divine Skin and Beauty