’n Troue onder die sterre was presies wat Ryno en Amoré graag wou hê om hulle liefde te vier. Minette Badenhorst vertel ons meer oor hierdie piekniek in die bos.
Hierdie betowerende troue, verskuil as ʼn weggaanpartytjie, is een vir al die old romantics. Dit gee jou daardie gevoel van vintage romantiek, met ’n Jazz-invloed en romantiese dekor.
WAAR HET JULLE MEKAAR ONTMOET VOOR DIE TROUE?
“Ons het mekaar ontmoet by ʼn orkesoefening ses jaar gelede. My man speel die trompet en ek die fluit.”
WAT HET JULLE OP MEKAAR LAAT VERLIEF RAAK?
“Die feit dat ons albei lief is vir musiek en reis. Die musiek was ʼn groot bonus. Ons het mekaar se geselskap geniet reg van die begin af. Dit was baie maklik vir ons om stories en herinneringe met mekaar te deel sonder om ongemaklik of vreemd te voel.”
VERTEL ONS HOE JULLE BESLUIT HET OP HIERDIE GROOT STAP?
“Ons was al vyf jaar saam voordat ons besluit het om die groot stap te neem en troue te hou. Vroeër in die jaar het Ryno ʼn kontrak ontvang vir ʼn posisie oorsee. Baie opgewonde oor hierdie moontlikheid het ons deur al die dokumente begin lees oor al die papiere en sertifikate wat ons sal nodig hê om aansoek te doen vir ons visas en permitte. Ons het oorsponklik beplan om die jaar te gebruik deur oorsee te gaan vestig en dan in volgende jaar (2018) terug te kom vir ʼn vakansie en dan sommer hier te trou. Maar nadat ons deur alles gelees het en oor dit gesels het, het ons besluit om eerder nou te trou. Ons is albei lief vir mekaar en gee baie om vir mekaar, so dit was eintlik ʼn no-brainer. Ons het slegs ons twee beste vriende by ons gehad toe ons na die kapel gegaan het om te trou. Dit het alreeds in Julie gebeur. Na die seremonie het ons dit gaan vier saam met vriende en hulle het ons oorreed om iets klein en intiems te hou met nabye vriende en familie, terwyl ons nog in SA is om dit meer amptelik en spesiaal te maak. Ek en Ryno het daaroor gesels en toe besluit om hierdie spesiale oomblik in ons lewens met ons familie en vriende te deel deur ʼn klein feesviering. En so het ons begin beplan aan ons troue.”
VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Daar was slegs ʼn paar vriende en familielede wat geweet het dat ons klaar getrou het. So vir die res was dit ʼn afskeidspartytjie. Die uitnodiging was doelbewus vaag in hierdie opsig: “A magical evening under the trees and stars”. Die idee vir die tema en dekor het begin by ʼn foto wat ek op Pinterest gesien het (ja, daardie pragtige verslawende ruimte op die internet) met ʼn meisie wat sit op ʼn vintage bal-en-klou-stoel met ʼn groot goue fotoraam agter haar, en dit was versier met blomme en blare op die een hoek, alles gestileer in die woud. Ek het gedink dit is so ʼn betowerende omgewing. Ek wou nog altyd ʼn troue in die woud hê, want die foto’s wat mens van dit sien is net asemrowend mooi en gee altyd so ʼn romantiese atmosfeer. Met die idee van die groot fotoraam and stoel in gedagte, was die volgende stap om op ʼn kleur skema te besluit. Die Koningsproteas is die mooiste en mees treffende blom and is boonop ons Nasionale Blom. So het die kleurskema van pienk, groen, wit, room en bietjie donker rooi vir die uitstaan effek, gevorm. Volgende stap was om die perfekte venue te vind. Ons het op die internet gesoek vir plekke met woude, wat toegerus was met badkamers, spyseniering en akkommodasie. Ons het die perfekte venue gekry vir ons troue, by Gecko Ridge Wedding Venue. Die gasvrou, Angelique, was ʼn droom om mee saam te werk. Sy het ingekoop in ons tema en idees, en het ons bygestaan met al ons benodighede. Sy het alles baie gemaklik en ontspanne gemaak vir ons.”
BESKRYF JULLE TROUE ONDER DIE BOME EN STERRE?
“Die Saterdagoggend was so ʼn gejaag. Ons het rondgehardloop om al die dekor, komberse, kussings en blomme op hul regte plekke te kry. Teen 14:30 moes ek begin om myself gereed te kry vir die groot dag. Na ʼn baie vinnige stort, het Marika (die fotograaf) haar kop by my kamer ingesteek en gevra: “Is jy Amoré?”. En al wat ek kon sê was: “Gonna, ek is nog nie reg nie”. Sy het net gelag en gesê dit is niks vreemds vir haar nie en gesê sy sal my tyd gee om aan te trek terwyl sy solank fotos gaan neem van die venue. Ek het toe vinnig aangetrek, en my hare en grimering gedoen. My grimering was baie neutraal, maar met smokey eyes en donkerrooi lippe. My uitrusting vir die dag was soos volg: Something old, my ma se trourok; Something new, die kanttop wat ek bo-oor die rok aangehad het; Something borrowed, die poncho wat ek die aand aangetrek het; en Something blue, die lint in my skoene.
Uiteindelik na al die gehaas het die tyd aangebreek om ons gaste te ontvang. Almal was vreeslik verras deur hoe mooi die spasie gelyk het en dat dit eintlik ʼn troue was. Almal het rustig hulle plekke gevind en die kaas en wyn geniet terwyl ek en Ryno vir ʼn vinnige paar fotos gegaan het. Toe ons terugkom het ons ʼn klein seremonie gehad. Dit was ʼn baie spesiale oomblik en ons pastoor het vir ons so ʼn mooi boodskap gegee.
Die Charlie Chaplin-fliek het begin, kos is bedien en almal het onder die ekstra komberse ingekruip. Dit was ʼn skouspelagtige gesig. Die aand het geeïndig met nog ʼn fliek, Singing in the Rain, springmielies en kolwyntjies bedien is. Dit was ʼn aand van pure geluk en betowering.”
WAT IS JOU RAAD VIR BRUIDE WAT TROUE BEPLAN?
“Moenie vir ewig wag om jou troue te beplan nie. Hierdie wys dat jy ʼn troue en iets spesiaal kan beplan in ʼn baie kort tydjie. Dit is ook nie nodig om baie geld te spandeer om iets skouspelagtig en betowerend te skep nie.”
Met haar something old, something new, something borrowed en something blue het Amoré met haar sielsgenoot Ryno getrou onder die bome en sterre. Met springmielies, piekniekmandjies en ʼn Charlie Chaplin-fliek op die skerm was dit ʼn aand vol betowering.”
DIENSVERSKAFFERS:
Venue en Spyseniering: Gecko Ridge Wedding Venue
Koördinering: Angelique van den Berg
Blomme en dekor: Liza Neethling at Ya Amor Creations
Verhurings: Springmieliemasjies en fliekskerm – Rocket Party Hire
Skryfbehoeftes: Self gemaak deur die bruid
Troukoek: Annica from Cake Boshoff & Decor
Fotograaf: Marika Wilkins Photography
Musiek: Self
Trourok: Bruid het haar ma se rok gedra
Grimering en hare: Self gedoen
Ander: Piekniekmandjies – Wicker Wonder Weavers