Liefde kan jou soms vind, wanneer jy dit die minste verwag – selfs op ’n onwaarskynlike plek. An-Sophie Louerens deel hierdie paartjie se interessante verhaal.
Dietrich en Marguerite sou in hulle wildste drome nie kon dink dat hulle deur Skype liefde sou vind nie. Hulle bruilofsfees is in groen en grys op ’n plaas gevier.
Ons het gaan uitvind hoe hulle liefdesreis hulle tot by die dag gebring het.
HOE HET JULLE LIEFDE BEGIN?
“Ons het op ’n Skype-kletskamer begin gesels, waarop die meeste van my vriende was. Na drie weke se aanmekaar gesels, het hy vir my ’n prentjie van ’n rakkas gestuur, wat hy vir sy ma gebou het. My reaksie was ’n huilgesiggie. Ek wou graag die boekrak in die werklikheid sien. Terwyl hy op pad was om die rakkas te gaan aflewer, het hy dit eers vir my kom wys en so het ons liefde begin.”
WANNEER HET JULLE BESEF JULLE IS BEDOEL VIR MEKAAR?
“Ons het saam besluit om vir ’n maand lank ’n breek te vat om vir God bevestiging oor ons liefde te vra. Ons het duidelike tekens ontvang dat ons bedoel is vir mekaar.”
HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Ons was die aand op pad dorp toe om date night te hê, toe sê hy, hy moet net gou stop waar hy die oggend houtwerk gedoen het in die bos, want hy het van sy gereedskap daar vergeet. Hy het gestop en sy Ipad vir my gegee om iets te kyk. Dit is toe ’n skyfievertoning van ons sewe jaar saam. Ek het uitgeklim en met die hout-en lanternpaadjie langs geloop tot by ’n boma, waar hy gestaan het met ’n enkele rooi roos, omring deur kerse. Toe vra hy my om te trou!”
VERTEL ONS MEER OOR JULLE TROUBEPLANNING?
“Ons was ’n jaar en drie maande verloof. Eerstens moet ’n mens ’n venue kry, want dit bepaal alles van die troue. Ons altwee het ’n liefde vir die buitelug en het besluit op ’n plaastroue. Na ’n lang gesoek, het ons dadelik geweet toe ons die regte plek gekry het. Die begroting is net so belangrik. ’n Mens kan baie spaar. Ek het twee dae voor die troue sommer solank vir die gaste die program ge-whatsApp. Ek het ook nie tafelplasings gehad nie, ek het wel net ’n groep mense bymekaar geplaas, maar hulle kon op enige plek sit.”
BESKRYF VIR ONS JOU TROUDAG, DIE KLEURE, TEMA EN DIE TIPE ATMOSFEER.
“Dit was sommer net ’n lekker plaastroue wat ons liefde vasgevang het. Ons het ons voete seer gedans! Ons kleurskema was groen en grys, met bruin wat die kleure aanvul. Ek wou graag klem lê op eenvoud van plaaslewe. Die dag het verby gevlieg, maar ek kon kalm bly en alles inneem.”
WAT HET AGTER DIE SKERMS GEBEUR ?
“Ek en my verloofde het alles gedoen. ’n Week voor die troue het my sussie en swaer kom hand bysit met die laaste detail.”
HET ENIGIETS BESONDERS OP JULLE TROUDAG GEBEUR ?
“Net voor ons kapel toe moes gaan, het een van my strooimeisies my ’n drukkie gegee en ons kralewerk het aanmekaar vasgehaak. Dit was baie snaaks. My sussie met downsindroom wat ons ringe ingedra het, was baie spesiaal, asook die pa- en dogterdans en ons belofte van liefde aan mekaar.”
HET JY ENIGE RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE ?
“Moenie jou troue te vroeg begin beplan nie. ’n Mens raak vinnig verveeld met jou idees en dan wil jy alles op die laaste minuut verander.”
WATTER ITEMS HET JULLE SELF GEMAAK ?
• Liggies wat spel “liefde”;
• Dankiegeskenkies: Nastergalkonfyt vir die vrouens en hout coasters vir die mans;
• Servette; en
• Tafelplasings: die tafels was verskillende perderasse, ons het houtperde uit hout gesny en teen die dak laat hang.
Dietrich en Marguerite is getuies dat jou lewensmaat enige tyd en plek in jou lewe oor jou pad gestuur kan word. Hulle troue was voorwaar ’n spieëlbeeld van hulle persoonlikhede. Net soos hulle liefde vir die plaas weet ons hulle liefde vir mekaar is immergroen.
DIENSVERSKAFFERS
Venue, Drankies, Bloemiste, Troutoebehore: Padlangr25
Spyseniering: At Your Place Catering
Troukoek: Lee Angell (familie van die bruid)
Fotograaf: Elize Mare Wedding Photography
Videograaf: DC Productions
Musiek: Extreme Productions
Trourok: ChiqWawa Bridal Courture
Hare en grimering: Debbie Ellis
Bruidegom se uitrusting: Park Town Stores
Ander: Gumboots – NuNu Lief