Die groot vraag is gevra en jou antwoord was ja. Nou moet jy die perfekte trourok kry om jou soos ’n prinses te laat lyk op jou mooiste dag. Bella Vestito gee raad oor hoe jy hierdie keuse ’n maklike een kan maak.
Elke meisie droom van kleins af al oor hoe haar trourok eendag gaan lyk, maar dikwels is dit nie die een waarmee jy op die ou einde van die dag voor die kansel staan nie. Die rede hiervoor is omdat ’n mens se liggaamsbou nie noodwendig altyd pas by dit wat jy aanvanklik in gedagte gehad het nie.
Maar moenie wag tot aanpastyd om voorsiening te maak vir so ’n penarie nie. Doen van die begin af jou huiswerk, sodat jy nie met groot teleurstelling, ’n maand voor jou troue uitvind dat jou droomrok jou soos ’n verlepte lelie laat lyk nie.
Maar hoe kies jy die perfekte trourok vir jou lyf? Begin by die begin en bepaal watter lyftipe jy het. Sodra jy dit weet, kan jy begin soek vir trourokstyle wat jou figuur sal vlei. Hier is ’n paar…
Die Meermin
Hierdie styl word gedefinieer deur ’n rok wat noupassend is by die bolyf, heupe en bo-bene. Dit beklemtoon sodoende die kurwes en die romp begin uitklok net bo of onder die knieë.
Dit sal perfek werk as jy ’n uurglaslyf het en jou kurwes wil komplementeer. Dit sal jou ook langer en slanker laat vertoon.
Die Balrok
Hierdie styl word gedefinieer deur ’n noupassende bostuk en ’n romp wat natuurlik vanaf die middel uitklok in ’n baie vol romp.
Bruide met hoekige lyftipes kan gerus hierdie styl dra, aangesien die volheid van die romp die illusie van kurwes gee. Hierdie styl werk ook goed vir die peerlyftipe omdat dit groter heupe en bo-bene goed verdoesel.
Die A-lyn
Hierdie styl word gedefinieer as ’n rok met geen merkendwaardige middellyf nie. Die vertikale some vloei vanaf die skouers tot by die romp, wat stelselmatig uitklok en die rok ’n A-vorm gee.
As jy ’n tipiese appellyfie het, en jou gewig om jou middel dra, is hierdie styl die perfekte keuse. Net soos die Balrok, verdoesel die A-lyn ook groter heupe en lyk dit ook mooi aan iemand met ’n peerlyfvorm. Die A-lyn lyk goed aan amper enige lyfvorm.
Die Empire-rok
Hierdie styl word gedefinieer deur ’n verhoogde middelrif, wat reg onder die borste begin en vloei tot in ’n romp wat liggies aan die heupe raak en dan bietjie uitklok tot op die vloer.
Hierdie romantiese styl vlei meeste liggaamstipes en lyk veral goed aan dames met kleiner borste. Dit help ook om enige dele van jou lyf weg te steek wat jy wil, omdat dit net die kleinste gedeelte van jou lyf beklemtoon en nie aan jou kleef nie.
Die Sheath-rok
Hierdie styl word gedefineer deur ’n noupassende snit vorm wat naby die lyn van jou lyf af beweeg.
Dit los nie veel plek vir enige liggamsfoute nie, en komplementeer ’n kleiner liggamsbou. Die lang lyne van die rok kan ’n bruid ook langer laat vertoon, en is dus ’n goeie opsie vir die korter bruid.
Die Tompetrok
Hierdie styl word gedefinieer deur ’n noupassende bostuk, wat uitklok net onder die heupe.
Dit is ideaal vir ’n uurglasfiguur, omdat dit kurwes beklemtoon en aan die lyf kleef op al die regte plekke. Hierdie styl doen ook wonders vir dames wat wyer skouers as heupe het.
Hopenlik help hierdie inligting om jou keuse makliker te maak wanneer jy rok-soek.