afskilfering vir jou troudag 1
Daar is niks mooier as ’n bruid met ’n mooi, gladde vel op haar troudag nie. Bederf jou lyf met hierdie oulike skropsout wat jy sommer self kan maak.

Skropsout is ’n gewilde lyfbehandeling waarin ’n growwe korrelmengsel oor die hele lyf gesmeer word om die eerste lagie vel weg te skraap, sodat jou vel weer vars en glad kan voel en lyk. Dit is veral in die winter baie belangrik om jou vel ’n bietjie meer aandag te gee, veral as jou troudag vinnig nader kom.

Smeer ’n dikker basisroom aan jou vel en gebruik jou skropsout tenminste eenkeer per week. Skropsout skilfer en bevogtig jou vel om dit glad en sag te laat voel. Dit word uit natuurlike produkte soos suiker, growwesout en koffiebone gemaak wat dan gemeng word met masseerolies of aromatiese olies.

HOE OM JOU SKROPSOUT TE GEBRUIK
Smeer sowat ’n eetlepelvol skropsout met sirkelvormige bewegings aan jou vel. Dit mag dalk sensitief voel as dit jou eerste keer is. Hou aan smeer asof jy besig is om die vel te masseer. Los die skropsout vir 1 minuut aan, sodat die natuurlike produkte in die vel kan intrek. Spoel dit dan af onder warm water en smeer ’n dik basisroom aan.

MAAK JOU EIE SKROPSOUT
Jy kan sommer jou eie skropsout maak om aan jou vel te smeer voor jou troue of om in oulike potjies vir jou gevolg te gee as ’n lekker bederf om hulle te bedank vir hulle hulp.

Hier is ’n paar oulike resepte:

afskilfering vir jou troudag 2

KLAPPER- EN SUURLEMOENSKROPSOUT
Bestanddele:
¼ koppie klapperolie
1 koppie witsuiker
5ml growwesout
15ml klapperskaafsels
10ml suurlemoensap
5ml Vitamien E-olie
Paar druppels Tissue-olie

Maak dit so:

  1. Smelt die klapperolie in die mikrogolf.
  2. Gooi die suiker by en meng goed.
  3. Meng die oorblywende bestanddele deeglin in, totdat die skropsout klam en smeerbaar is. As jou sout te nat is, gooi nog suiker by. As jou sout te droog is gooi nog klapperolie by.

afskilfering vir jou troudag 3

VANIELJE- EN KANEELSKROPSOUT
Bestanddele:
½ koppie bruinsuiker
½ koppie witsuiker
¼ koppie olyf- / amandelolie
5ml vanielje-ekstrak
5ml kaneel
15ml Vitamien E-olie
Paar druppels Tissueolie

Maak dit so:

  1. Meng al die droë bestanddele saam.
  2. Voeg die vanielje en Vitamien E-olie geleidelik by totdat jy ’n klam, smeerbare produk het.

afskilfering vir jou troudag 4

SJOKOLADE EN GROENTEE SKROPSOUT
Bestanddele:
½ koppie klam bruinsuiker
½ koppie witsuiker
15ml kakaopoeier
15ml groenteeblare
¼ koppie amandelolie
5ml vanieljegeursel
5ml klapperolie
’n Paar skaafsels donkersjokolade
Paar druppels Tissue olie

Maak dit so:

  1. Smelt die klapperolie in die mikrogolf.
  2. Gooi die klam bruin- en witsuiker by en meng goed.
  3. Meng die oorblywende bestanddele (behalwe die sjokoladeskaafsels) in en meng goed, totdat die skropsout klam en smeerbaar is. Roer dan versigtig die sjokoladeskaafsels in. As jou sout te nat is gooi nog suiker by. As jou sout te droog is gooi nog amandelolie by.

Die bogenoemde resepte maak elkeen een potjie skropsout. Bêre op ’n koel plek of in jou yskas vir tot drie maande.

As jy na jou skropsoutsessie weer reg vir die lewe voel, maak sommer vir jou strooimeisies elkeen ’n potjie lipskropsout. Dit is maklik en hulle sal so bly wees dat jy die moeite gedoen het. Smeer die lipskropsout vir 30 sekondes aan jou lippe, verwyder met ’n warm klam waslap.

afskilfering vir jou troudag 5

HEUNING- EN KLAPPEROLIE LIPSKROPSOUT
Bestanddele:
2 koppies klam bruinsuiker
25ml heuning
15ml klapperolie

Maak dit so:

  1. Smelt die klapperolie in die mikrogolf.
  2. Gooi die klam bruinsuiker en heuning by en meng goed.

AARBEI- EN OLYFOLIE LIPSKROPSOUT
Bestanddele:
2 koppies witsuiker
10ml heuning
15ml olyfolie
5 aarbeie, met ’n vurk plat fyngedruk
5ml aarbeigeursel

Maak dit so

  1. Meng al die bestanddele saam.
  2. Gooi die klam bruinsuiker en heuning by en meng goed.

Jou vel (of lippe) gaan sommer baie lekker voel, maar smeer altyd dadelik room of lipbalm aan om die meeste uit hierdie skoonheidsgier te put.

Artikel: Christell du Preez
Hooffoto: Salt Sense
Foto’s: The Idea Room

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA