beplan die perfekte kombuistee 1
As strooimeisie is dit jou werk om seker te maak dat jou bruid die beste kombuistee het wat daar nog ooit was. Hier is raad om jou te help om die dag perfek te maak.

beplan die perfekte kombuistee 2
Volgens legende was daar eendag ’n Duitse meisie wat van ’n ryk familie afkomstig was. Sy het verlief geraak op ’n arm man wat haar pa glad nie goedgekeur het nie. Haar pa het geweier om ’n bruidskat te gee of by te dra tot die troue – in die hoop dat sy van die armsalige siel sou afsien. Sy het egter die kans gevat en vir liefde getrou, en nie vir geld of aansien nie. Die inwoners van die dorp het toe besluit om ’n klomp noodsaaklikhede bymekaar te kry en dit vir die paartjie te gee om hulle te help huis opsit.

Vandag doen ons dit steeds… maar met die ouers se toestemming en ons noem dit ’n kombuistee en dit word gewoonlik deur die strooimeisie, ’n vriendin of selfs die bruid se ma gereël ter ere van die bruid. Alhoewel ons deesdae nie meer slegs op kombuisgoed fokus nie, is daar baie ander geskenke wat gegee kan word en bly die tradisie staan.

HOEKOM IS DIT NODIG?
Kombuistee’s is ’n ysbreker en ’n lekker rede vir vriende en familie om voor die bruilof bymekaar te kom om mekaar beter te leer ken. Daar is ook paartjies wat vir die eerste keer huis opsit en goedjies nodig het of uitgawes het waarmee gaste kan help – dus help die gaste so ook om spanning van die pasgetroudes af te haal as die troue eers verby is.

WIE MOET DIT REËL EN DAARVOOR BETAAL?
Die strooimeisie(s) sal gewoonlik die kombuistee hou vir vriende en familie en daarna soms ook ’n bachelorette vir die jonger meisies. Partykeer sal die bruid se ma of skoonma die funksie reël, afhangende van wat die omstandighede is. Gewoonlik sal die strooimeisie(s) vir die funksie betaal en as dit baie duur is, sal van die familie ook help om die kostes te dra. Dit het ook al gebeur dat gaste gevra is om ’n ingangsfooi te betaal as dit ’n spoggerige aansit-affêre is.

WAAR WORD DIT GEHOU?
Tradisioneel is dit by iemand se huis gehou, maar deesdae is venues die in-ding vir sulke partytjies. Spa’s, koffiewinkels, restaurante, partytjieplekke, die park, die dieretuin en selfs die strand word deesdae gebruik om kombuistee’s te hou, afhangende van die tipe funksie, seisoen en die hoeveelheid mense. Soms word die kombuistee en rampartytjie saam gehou.

WANNEER MOET DIT GEHOU WORD?
Kombuistee’s word enige tyd vanaf ses weke voor die troue gehou, tot en met die week van die troue. As mense van ver af kom vir die troue, is dit dalk ’n oulike idee om dit so na as moontlik aan die groot dag te hou. As die bruidspaar egter moet huis opsit na die troue, is dit goed as dit redelik vroeg is, sodat hulle weet wat hulle nog kort.

WIE WORD GENOOI?
Vra vir die bruid vir ’n gastelys – of as dit ’n verrassing is, praat met haar verloofde hieroor. Moenie iemand nooi wat nie na die troue toe genooi is nie, omdat dit nogal ’n probleem kan veroorsaak. Gewoonlik verkies die bruid ook om nie die gaste wat nie die troue gaan bywoon nie te nooi nie. Onthou ook om die bruidegom se vriende se vriendinne en ook sy familie by die uitnodiging in te sluit.

beplan die perfekte kombuistee 3

WAT GEBEUR TYDENS ’N KOMBUISTEE?
Daar is nie juis formaliteite vir so ’n funksie nie. Gewoonlik sal almal saam eet, drink, gesels en kuier. Dan sal die bruid haar geskenke oopmaak en daar soms ook speletjies gespeel word, afhangende wat die aard en die luim van die funksie is. As jou bruid nie daarvan hou om te drink, vreemde goed te eet of snaaks opgedollie te word nie, respekteer haar wense – die goue reël is: Moenie aan ander doen, wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.

WATTER TEMAS KAN OORWEEG WORD?
Temas is deesdae baie oulik en gewild en kan baie help om die dekor, eetgoed en vermaak te bepaal.
– ’n Pajama-partytjie kan lekker snoesig en gerieflik wees en ook in ’n lekker kuier ontaard. Dit sal ook die bruid minder selfbewus laat voel as sy stoute onderklere present kry.
– ’n Lyfbederfpartytjie is baie gewild. Vra die gaste om vir hulleself ’n behandeling by die spa te bespreek en kuier dan na die tyd saam om geskenke oop te maak.
– Maak dit ’n dag van herinneringe deur ’n foto-tema te kies en die plek met fotorame en foto’s te versier. Kry ook ’n elektroniese fotohokkie soos die van Snap-Ease Boothtography om die gees aan die gang te kry. Gaste sal dit geniet en iets hê om na die tyd huistoe te vat.
– ’n Musiekpartytjie kan ook baie lekker wees. Huur ’n oulike DJ en maak die saal soos ’n dico op. Real Sounds bied byvoorbeeld ook karaoke as ’n opsie en dit kan regtig pret wees.
– As die bruid mal is oor kos en kook, hou ’n sjef-partytjie en vra die gaste om hulle gunstelingresepte saam te bring sodat julle vir haar ’n boek kan saamstel.
– ’n Spoggerige teepartytjie met liplekker snoeperye is ook oulik vir bruide wat nie hou van drink nie.

As jy nie weet waar om te begin reël nie, laai hierdie handige kombuistee-tieklysie af om jou te help met die beplanning sodat jy van niks vergeet nie.

Hou ook die blog dop vir ons artikel oor oulike speletjies vir kombuistee’s.

Foto’s: True Blue Décor;  My Wedding; True Blu ; Wedding Reception Ideas

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA