Beplanningsfoute is iets wat met enige bruid kan gebeur en dit hoef nie die einde van die wêreld te wees nie. Christell du Preez van The Peachy Peony het raad.

Daar is soveel lysies wat gepaard gaan met troues. Die lysie van wat julle alles nodig het om die groot dag funksioneel te maak, die begrotingslysie, die strooimeisielysie… en nog baie ander. So dit is maklik om soms beplanningsfoute te begaan, en dis normaal. As jy dit rustig benader kan sulke beplanningsfoute sommer in ’n japtrap hanteer word… of dalk voorkom word. Hier is maar net ‘n paar voorbeelde hoe jy jouself koel en kalm kan hou deur julle beplannigsfase.

GELDSAKE
Kommunikasie is baie keer die kernoorsprong vir onnodige frustrasies in hierdie area. Maak seker dat jy en jou verloofde, asook enigiemand wat bydra tot die troue, op dieselfde bladsy is oor julle begroting. Ongelukkig as iemand bydra, soos jou ma en pa of jou skoonouers, moet jy weet daar gaan iewers in die toekoms ’n meningsverskil hieroor wees. As jy nie van die begin af met almal oopkaarte speel en beplan nie, is dit een van daardie beplanningsfoute wat tot groot trane lei in die dae voor die troue.

MIKROBESTUUR
As jy iemand is wat hou daarvan om in beheer te wees, wil ek jou vandag die beste raad gee wat enigiemand jou ooit sal kan gee. Hou op. Met ’n troue is daar net te veel mense betrokke om alles te beheer. Met dit bedoel ek nie jy moet nie seker maak en met mense reël nie, maar gaan praat met vorige bruide; nog nooit het ’n troue perfek volgens skedule gehardloop nie. As dit nie doen nie, is dit nie die einde van die wêreld nie. Niemand behalwe jy gaan weet nie en daardie program waarop die aand se gebeure pragtig uitgelê is, is basies net leesstof vir gaste in die kerk. Niemand gaan jou by dit hou nie. Dit sit soveel onnodige stres op jou, maak ’n raamwerk en die res geniet jy net!

MOENIE TE LAAT TROU NIE
Al wat jy regtig van jou troue het, is jou foto’s. Maak seker jy het genoeg tyd hiervoor uitgesit. Gaste kan deesdae so maklik vermaak word dat die dae van rond staan en wag vir die bruidspaartjie om klaar foto’s te neem glad nie meer relevant is nie. Terselfdertyd kan die verkeerde fotograaf een van die grootste beplanningsfoute van jou lewe wees. So maak seker dat hy of sy die tipe foto’s neem wat julle van hou. Daar is soveel hartseer verhale daarbuite van bruide wat ongelukkig is, omdat hulle dag nie mooi vasgevang is nie.

INLIGTING
Een van die beplanningsfoute wat so baie bruide maak, is dat hulle dink gaste weet waar die fasiliteite op die venue is. Selde is die area vir mense bekend. Maak seker jy het genoeg bordjies op wat sê waar die toilette, onthaal, seremonie ensovoorts is. Jy wil nie hê iemand moet op die troukar se plek parkeer nie.

NIEMAND IS AAN JOU KANT NIE
Dit is ‘n vreemde opskrif om te hê, maar ongelukkig sien ek soveel verhale van bruide wat huil of kwaad is omdat iemand in die gevolg hulle teleurgestel het. Mense raak lelik met bruide en die term bridezilla, word hier so maklik gebruik wanneer ’n bruid snap omdat die tiende persoon vir haar vra of hulle iets kan doen wat sy gespesifiseer het op die kaartjie hulle nie mag doen nie. Die enigste ding wat jy kan doen om jouself te beskerm, is om altyd koel en kalm voor te kom. Let wel die klem op voor te kom, niemand hoef te weet hoe jy in jou kar gil nie.

As jy hierdie algemene beplanningsfoute systap, sal dinge al klaar op die dag makliker gaan.

Foto: Sarah Louise Bridal

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA