’n Blomkandelaar op jou mooiste dag kan pragtig wees en nog meer spesiaal as jy dit self gemaak het. Minette Badenhorst het by Sophia’s gaan uitvind hoe om hierdie item te maak.

Sonja Oosthuizen is die eienaar van Sophia’s en sy is passievol oor blomme en geniet dit om met teksture te speel. Vandag wys sy vir ons hoe om stap-vir-stap ʼn pragtige blomkandelaar te maak.

“Ek glo daar is ’n tipe betowering betrokke wanneer dit by troues kom. Vir my blomme en myself om deel te wees daarvan, is ’n eer en voorreg,” sê sy.

Hier is hoe jy jou eie blomkandelaar kan maak.

WAT GAAN JY NODIG HE VIR HIERDIE BLOMKANDELAAR:
• Hoepel
• Spuitverf in die kleur van jou keuse
• Snoeiskêr
• Skêr
• Tang
• Bloemistedraad
• Proefbuisies gevul met water
• Vislyn
• Naald met ʼn groot genoeg oog vir die vislyn
• O rings – klein silwer ringetjies wat hul ook gebruik om juweliersware te maak
• Lint
• Kristalle
• Groenigheid soos eucalyptus of ivy
• Vars blomme

MAAK JOU BLOMKANDELAAR SO:
1. Spuit jou hoepel in die kleur van jou keuse en laat dit droogword.
2. Neem vier kort stukkies lint en knoop dit liggies sodat die hoepel in vier kwarte gedeel word. Op die manier sal jy dan later weet waar om jou 4 langer linte te knoop sodat jou hoepel mooi gebalanseerd hang.
3. Draai jou groenigheid om jou hoepel. Die dikte van die groenigheid hang af van hoe vol jy jou hoepel wil hê. Gebruik die bloemistedraad om enige los stukkies groenigheid aan die hoepel vas te draai.
4. Knip die stele van jou blomme korter en plaas dit in die proefbuisies wat jy met water gevul het.
5. Druk dit versigtig tussen die takkies van die groenigheid in. Jy kan weereens bloemiste draad gebruik as jy jou proefbuisies stewiger wil vasmaak.
6. Gebruik jou naald en vislyn om stringe blomme te maak om aan die kandelaar te hang. Op die punte gebruik ek kristalle vir ʼn mooi afwerking. In plaas van die vislynknoop, gebruik ek O rings wat ek met ʼn tang toedruk.
7. Knip vier ewelang stukke lint, en gebruik die korter stukkies lint (wat jy in stap 2 gedoen het) as gids waar jy die langer linte moet vasmaak. Nadat jy die langer linte vasgemaak het, kan jy die korter stukkie losmaak en afhaal.
8. Maak nou ʼn knoop met die vier langer linte se los punte. Maak seker dat die linte dieselfde lengte is, andersins mag jou blomkandelaar skeef hang.
9. Maak die vislynstringe met blomme vas aan die hoepel.
10. Jou blomkandelaar is nou gereed om gehang te word.

  • Hierdie is deel van ’n gestileerde fotosessie. Klik hier om die res van die foto’s te sien en hou ons blad dop vir nog selfdoenprojekte uit hierdie sessie.

Foto’s: Celeste Cilliers Photography

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA